SAPD se tolgeld-bewerings is glo vals

Chapman's Peakrylaan

Chapman’s Peakrylaan

Bewerings dat die polisie nie kon reageer op ʼn diefstal in Chapman’s Peakrylaan tussen Noordhoek en Houtbaai nie omdat hulle nie die tolgeld kon betaal nie, is Woensdag in twyfel getrek.

“Dit is ʼn leuen,” het Robin Carlisle, LUR vir vervoer in die Wes-Kaap, gesê.

Kol. Bongani Mtakati, Houtbaai se polisiestasie-kommissaris, het glo gesê polisiebeamptes wat op ʼn misdaad wou reageer is nie by Chapman’s Peak toegelaat nie, omdat hulle nie die R36 tolgeld kon betaal nie.

Die polisie is Sondag glo ontbied na ʼn misdaadtoneel waar R20 000 uit ʼn motor van ʼn Irannese gesin, wat in die gebied vakansie gehou het, gesteel is.

Carlisle sê die bestuurder van die polisievoertuig het ʼn dagpas ontvang wat hom toegelaat het om deur die tolhek te ry. Die voertuig het glo drie minute later in die rigting van Houtbaai teruggekeer. Hy sê bewerings deur Mtakati dat sy voertuie gereeld by Chapman’s Peak-tolplaza opgehou word, is vals.

Polisievoertuie aan diens is kwytgeskeld van tolgeld deur ʼn ooreenkoms tussen die Entilini Konsessie, wat die tolplaza bedryf, en provinsiale regering.

Lt.kol. André Traut, woordvoerder van die polisie, het gesê die saak word ondersoek en hy wou nie kommentaar lewer nie. -SAPA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.