SAPD skuld R24 miljoen vir water en ligte

Argieffoto (Foto: SAPS/Facebook)

Die minister van openbare werke en infrastruktuur, Patricia de Lille, het in antwoord op ʼn geskrewe parlementêre navraag van die DA onthul dat die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) meer as R24 miljoen agterstallig is op sy water- en elektrisiteitsrekening. Die departement betaal gewoonlik dié munisipale rekeninge namens kliënte soos die SAPD en fakture word dan uitgereik vir die bedrag.

Michele Clarke, die DA se skaduminister van openbare ondernemings, sê die niebetaling het reeds ʼn impak gehad op dienslewering, aangesien die polisiestasie in Germiston verlede maand dae lank nie kragtoevoer gehad het nie. “Met hoë misdaadvlakke kan stasies landswyd nie ernstige probleme in hul gemeenskappe takel as hul ligte afgeskakel is en toerusting nie werk nie. Ons het duidelikheid nodig of die departement wel die rekening betaal het en of hulle betaling weerhou het omdat die SAPD nie sy faktuur betaal het nie.”

Clarke sê dit wil voorkom of die hele SAPD ineenstort. “Met ʼn yslike DNS-agterstand en interne bakleiery tussen minister Bheki Cele en nasionale polisiekommissaris Khehla Sithole, is dit duidelik dat die SAPD nie eens vir die mees basiese dienste kan betaal nie.”

Volgens Clarke moet die departement dringend alle agterstallige SAPD-rekeninge identifiseer en seker maak dat dit dringend betaal word. “Die SAPD en die departement moet ook voor die parlementêre komitee oor openbare werke en infrastruktuur verskyn om verantwoording te doen vir die huidige gemors.”

Die DA sal binnekort bykomende vrae aan minister De Lille stuur wat betref alle munisipale rekeninge van die regering en maatreëls wat ingestel word om seker te maak dit word betyds betaal.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Johanncb ·

Die Poskantoor is reeds insolvent verklaar, die Polisie is volgende! En, ja, ons land is reeds lankal insolvent!

Mariana ·

Nou ja so gaan dit aan en aan en aan. Onbevoegdes, ongeletterdes en wat nog wat aangestel is in belangrike poste maar nie hul werk kan doen nie. Bheki Cele jou besigheid val uitmekaar. ANC julle het land onherstelbaar vermink. Mens kan nie glo hoe dit werklik in hierdie eens agtermekaar land lyk nie. Skande.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.