SAPD skuldig aan ‘onbillike arbeidspraktyk’

Argieffoto

Die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) het beslis dat die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) hom skuldig gemaak het aan onbillike arbeidspraktyk toe hy in 2019 ʼn polisielid ten koste van ʼn ander beampte met meer ervaring bevorder het.

Die polisiediens moet lt.kol. Annarie Breytenbach nou dadelik na die rang van kolonel bevorder terwyl ene kol. Nyembe se aanstelling ter syde gestel moet word. Breytenbach se aanstelling moet ook tot 1 November 2019 terugdateer.

Volgens die KVBA se uitspraak het die polisie hom skuldig gemaak aan ʼn onbillike arbeidspraktyk deur Nyembe destyds ten koste van Breytenbach te “bevoordeel”.

Nyembe is destyds onregverdig tydens die aanstellingsproses bevoordeel en onregmatig in die posisie van kolonel, die bevelvoerdersposisie by die “Epping Warehouse”, aangestel.

Solidariteit het deurgaans aangevoer dat Nyembe nie oor die nodige ondervinding beskik het om tot kolonel bevorder te word nie. Dít vergeleke met Breytenbach wat reeds tien jaar in die pos waargeneem het en altesaam 19 jaar ondervinding by die “Epping Warehouse” gehad het.

Nyembe het glad nie dieselfde ervaring gehad nie en was dus nie geskik vir die pos nie.

Sy het egter steeds ʼn hoër puntetelling gedurende die aanstellingsproses behaal.

Die arbiter het tot dieselfde slotsom gekom.

Luidens die uitspraak dui die onbetwiste getuienis van Breytenbach daarop dat sy steeds die werk moet doen aangesien Nyembe dit nie kan doen nie.

“Die feit dat die aansoeker [Breytenbach] meer bekwaam was vir die posisie as die suksesvolle kandidaat [Nyembe], blyk ook uit die feit dat sy meer spesifieke opleiding gedoen het … Gegrond op die feite, is ek nie daarvan oortuig dat die werkgewer op ʼn billike manier opgetree het nie,” het die arbiter beslis.

Ronel Stander, organiseerder van die openbare sektor by Solidariteit, sê die kwessie dat die polisie steeds sekere kandidate op ʼn onregmatige wyse bevoordeel en hulle dan in bevorderingsposisies aanstel ten koste van die beter kandidaat, is kommerwekkend.

“Daar is sekere vereistes waaraan kandidate moet voldoen en ʼn bepaalde protokol wat gevolg moet word, wat klaarblyklik net deur die polisiebestuur geïgnoreer word soos dit die lede pas.”

Volgens Stander stuur die uitspraak egter ʼn duidelike boodskap aan die polisie se bestuur. Sy sê ook dat Solidariteit nie die moontlikheid wil uitsluit dat die organisasie voortaan daarop sal aandring dat individue in hul persoonlike hoedanigheid aanspreeklik gehou moet word vir onregmatige bevorderings en bevooroordelings nie.

“Ons is egter verheug dat reg en geregtigheid in hierdie saak geseëvier het.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

13 Kommentare

jongste oudste gewildste
Magda G

Tipies vd saps. Weer eens n bewys v voortrekkery
Bly vir Annarie se part. Gee saps gas

Kokerboom

Ek stem dat die hele polisiebestuur insluitend minister dringend verwyder MOET word. Dis een massiewe blougeklede rangbelaste chaos!

Dup

Die A en C gee nie om of ñ kader die werk kan of nie kan doen nie.Solank dit ñ kader is, is alles reg en die A en C is tevrede.Daarna stort die “werkgedeelte” in duie en hulle stel dan nog ñ kommissie aan om vas te stel wat fout is.So val die stelsels almal om soos dominoblokkies.

Frank

En word die saak nou net daar gelos???? Wat van die mense wat die verkeerde aanstelling gemaak het? Nie eers ‘n tugverhoor nie. Hulle moet ten minste “demote” word!!!
Weereens word daar nie na die kern/oorsaak van die probleem gekyk nie.

Cherokee

So, die polieste is skelm.