SAPD swyg oor Bekkersdal-voorval

Bekkersdal Foto: Citizen (via @johannesmyburgh, Twitter)

Bekkersdal Foto: Citizen (via @johannesmyburgh, Twitter)

Die polisie wou Vrydag nie kommentaar lewer oor berigte dat die ANC se BBP-veiligheidswagte met lewendige ammunisie op Bekkersdal-inwoners losgebrand het nie.

Lt.kol. Lungelo Dlamini, woordvoerder van die polisie in Gauteng, het gesê hy kan nie kommentaar lewer oor die lede se opdrag nie, aangesien hulle onder bevel is van die provinsiale kantoor. Hy het bevestig dat die polisie rubberkoeëls gebruik het, aangesien hul voertuie met klippe bestook is. Ses mense is in hegtenis geneem vir openbare geweld.

Dlamini het navrae na die nasionale woordvoerder, Vishnu Naidoo, verwys. Naidoo het gesê hy kan nie kommentaar lewer nie en het navrae na die provinsiale polisiewoordvoerder, brig. Neville Malila, verwys. Malila kon nie vir kommentaar bereik word nie.

Afgevaardigdes van die ANC het Donderdag tydens hul verkiesingsveldtog besoek afgelê aan Bekkersdal.

Thabang Wesi, leier van die Besorgde Inwoners van Bekkersdal, het gesê inwoners het gewapende “lyfwagte” in die informele nedersetting gesien. Hy voer aan hulle het op inwoners, hoofsaaklik skoliere, losgebrand.

Die Star het Vrydag berig dat ANC-“lyfwagte” met lewendige ammunisie op inwoners losgebrand het.

Die Citizen-koerant het foto’s van die voorval gepubliseer. Op sy voorblad rig ʼn polisiebeampte in uniform ʼn vuurwapen op twee inwoners wat met hul rug teen ʼn muur staan. Dit wil voorkom of die inwoners nie gewapen is nie. (Sien foto onderaan berig.)

In nog ʼn foto hou ʼn man, wat ʼn ANC-T-hemp aan het, ʼn vuurwapen agter sy rug. (Sien foto onderaan berig.)

Mbangwa Xaba, koukuswoordvoerder vir die ANC in Gauteng, het gesê die ANC het nie lyfwagte gehad nie, maar BBP-beskerming wat deur die SAPD verskaf is. Hy het gesê hulle moes beskerming hê omdat hulle met klippe bestook is.

Moses Dlamini, woordvoerder van die Onafhanklike Polisieondersoek-direktoraat (Opod), het gesê hy sal met sy kantoor in Johannesburg in verbinding tree om te bepaal of die voorval ondersoek word. Hy sê indien iemand beseer is of gesterf het, moet die polisie die voorval by Opod aanmeld, waarna Opod die saak ondersoek. Aangesien dit nie duidelik is of enigiemand by Bekkersdal beseer is nie, kan hy dus nie sê of die saak ondersoek gaan word nie.

Nomvula Mokonyane, Gautengse premier van die DA, het versoek dat ʼn ondersoek van stapel gestuur moet word om te bepaal of lewendige ammunisie gebruik is.

Lees ook:
Bekkersdal: ANC met klippe bestook; SAPD brand los

Keith Khoza, woordvoerder vir die ANC, kon nie vir kommentaar bereik word nie. -SAPA

Amandla Media het dié foto op sosiale media gelaai. Volgens die mediahuis is die foto Donderdag, 13 Maart 2014 in Bekkersdal geneem.

Amandla Media het dié foto op sosiale media gelaai. Volgens die mediahuis is die foto Donderdag, 13 Maart 2014 in Bekkersdal geneem.


Bekkersdal Foto: Citizen (via @johannesmyburgh, Twitter)

Bekkersdal Foto: Citizen (via @johannesmyburgh, Twitter)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.