SAPD trek ‘slegs Engels’-beleid terug  

(Argieffoto: SA Polisie/Facebook)

“Alle provinsiale polisiekommissarisse sal deur die nasionale kommissaris opdrag gegee word om enige provinsiale taalopdrag, wat in stryd met nasionale beleid is, terug te trek.”

Volgens Okkie Terblanche, DA-LP en die party se woordvoerder oor polisie, is dit die antwoord wat hy van Bheki Cele, minister van polisie, gekry het op ’n skriftelike parlementêre vraag waarin die DA bevraagteken het waarom die Wes-Kaapse provinsiale kommissaris ’n opdrag uitgereik het dat slagoffers se verklarings slegs in Engels afgeneem sal word.

“Net soos ons oorwinning aan die Universiteit Stellenbosch verlede maand waar die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie bevind het dat die US die menseregte van Afrikaanssprekende studente geskend het, beskou die DA hierdie opdrag as ‘n reuse-oorwinning.”

Terblanche het gesê hy het op 13 Maart aan beide die nasionale polisiekommissaris en die Wes-Kaapse provinsiale kommissaris geskryf en hulle meegedeel dat hierdie opdrag lynreg in stryd is met die bepalings van beide artikel 6 van die Grondwet en die Wet op die Gebruik van Amptelike Tale, 2012.

“Die Grondwet vereis dat die nasionale of enige provinsiale regering ten minste twee amptelike tale moet gebruik, met inagneming van die gebruik, praktiese koste en voorkeur van die bevolking en balans van behoeftes.

“Die opdrag in die Wes-Kaap dat slagoffers se verklarings slegs in Engels afgelê kon word, was niks anders as plein diskriminasie nie.

“Om al die ander tien amptelike tale uit te sluit, sonder enige rasionele basis, sal ongelooflik nadelig wees vir die regstelsel en verklarings sal onakkuraat wees en sal moontlik daartoe lei dat slagoffers glad nie na vore kom nie.

“In ’n provinsie waar Afrikaans, Xhosa en baie ander tale prominent gebruik word, sal dit ’n geweldige onreg wees om slagoffers te verbied om hul moedertaal te gebruik.”

Maroela Media het vroeër berig dat die Wes-Kaapse polisiebestuur opdrag gegee het dat alle A1-verklarings slegs in Engels afgelê moet word. Dít is gewoonlik die eerste verklaring wat by die polisie afgelê word om ʼn saak aanhangig te maak.

ʼn Verklaring – wat in die eerste plek weens swak of gebrekkige taalgebruik onakkuraat afgeneem word – kan jou later in ʼn hof moontlik in groot moeilikheid laat beland.

Die vakbond Solidariteit het sy regspan ook opdrag gegee om die kwessie verder te ondersoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.