SAPD vaar goed by SWAT-uitdaging in Dubai

(Foto verskaf deur die SAPD)

Die bestuur van die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) loof die spesiale taakmag-eenheid vir sy prestasie by die 2022 VAE SWAT-uitdaging in Dubai die afgelope week.

“Die afvaardiging van 10 lede, onder leiding van brig. Chesten Gaffley van die elite-eenheid, het teen 32 ander spesialemagte-spanne van lande reg oor die wêreld meegeding,” sê kol. Athlenda Mathe, woordvoerder van die polisie. “Hul geestelike en fisiese uithouvermoë is in vyf uitmergelende oefening op die proef gestel.”

Die spanne het 13 – 17 Maart aan die uitdaging deelgeneem.

“Ná ʼn uitmergelende vyf dae van taktiese uitdagings, fop-gyselaarreddingsmissies en klopjag- en hindernisuitdagings het die kompetisie geëindig en die Suid-Afrikaanse span het 82 punte ingesamel. Hulle het in die 13de plek geëindig.”

Die span se bevelvoerder, afdelingshoof vir gespesialiseerde operasies, genl.maj. Nonhlanhla Zulu, was deel van die span wat die eenheid Vrydag terugverwelkom het by die OR Tambo- internasionale lughawe. Zulu glo die eenheid het na die beste van hul vermoë presteer.

“Die span het hard gewerk om vir die uitdaging voor te berei. Ons is tevrede met die uitslag, veral gesien in die lig dat ons vantevore tweede laaste geëindig het. Die harde werk begin nou om voor te berei vir volgende jaar se uitdaging. Maar die belangrikste van alles is dat die lede vaardighede, kundigheid en kennis opgedoen het en hulle kan dit oordra na lede van ander spesialis-eenhede,” het Zulu gesê.

Die spesiale taakmag is ʼn hoogs gespesialiseerde eenheid in die SAPD. Die lede is verantwoordelik vir hoë risiko-voorvalle insluitend gyselaarsituasies, soek- en reddingsoperasies en gespesialiseerde bedryfsondersteuning aan ander eenhede in die SAPD.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
Nie Verbaas

13de plek goed? Asseblief.