SAPD vra hulp ná reddingshond wegraak

Olive en konst. Katikati (Foto: Facebook)

Die polisie in Mthatha in die Oos-Kaap is op soek na inligting wat hulle kan help in die soektog na Olive, ʼn ligbruin Duitse herdershond met ʼn swart rug en gesig wat sedert Sondag vermis word. Die hond het ʼn halsband van swart leer met ʼn klok om haar nek.

Olive het Sondag teen 19:00 in die Mahlubini-omgewing in Sulenkama verdwyn. “Olive het weggeraak nadat sy ’n 55-jarige man gered het wat Vrydag vermis geraak het toe hy in ʼn woud gaan hout haal het. Olive is na bewering deur ander honde gejaag terwyl haar hanteerder, konst. Songezile Katikati, en ander lede van die gemeenskap op pad terug na die voertuig toe gestap het,” het die SAPD op Facebook geskryf.

Katikati en Olive werk al sedert 2012 saam. Dié twee het ook die toekenning vir beste reddingshond in die Oos-Kaap in 2014, 2015 en 2016 ontvang.

Katikati is uiters ontsteld en emosioneel uitgeput ná Olive se verdwyning. “Olive is my beste vriend. Sy is nederig en kan niemand seermaak nie, want sy is opgelei om mense te red wat verdrink, vermiste mense te vind en om bewyse op misdaadtonele uit te snuffel. Ek pleit by enigiemand wat haar sien om haar nie seer te maak nie, maar eerder veilig te hou en die polisie in kennis te stel,” het Katikati gesê.

“Olive het ons nog nooit teleurgestel nie. Wanneer ons vir konst. Katikati en Olive stuur om iemand te gaan red, is ons gerus in die wete dat hulle die vermiste persoon sal vind. Daarom is dit vir ons ontstellende nuus dat sy vermis word. Ons lede is sedertdien op soek na haar,” het brig. Nomawethu Makonza, waarnemende bevelvoerder van die Mthatha-polisiegroepering, gesê.

Enigiemand wat Olive teëkom of iets van hom weet, kan konst. Katikati by 083 530 3295 bel. Inligting kan ook by Stop Misdaad by 08600 10111 of Crime Line by 32211 gerapporteer word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Linda Gouws ·

Ai, ek hoop hulle kry vir Olive. ‘n mens raak verskriklik lief vir die diere. Sterkte!

Sue ·

Aiii, dis bitter hartseer. Mag Olive net veilig wees, alhoewel die hol kol maar sit op my maag. My 3 Yorkies is ook my lewe en dis iets wat nét n diere Mamma (of Pappa) sal kan verstaan. Ek sou hom soek, soos n “beste vriend” tot ek hom kry. Dit hét my al oorgekom.

Veronica ·

Asb!! Laat weet ons as Olive gevind word?? Ek bid opreg dat hy veilig sal wees en terug gevind sal word!!

rene ·

ek hoop regtig julle kry haar, wie ook al vir haar het, moet haar net nie seer maak nie.

Francois ·

As Olive dan so n duur en spesiale hond is; hoekom het hy nie Identifikasie en kontak besonderhede om sy nek nie ?

Vra ook ek ·

Vra ook ek Francois, daar word ook onder die vel ‘n inplanting gedoen.

Alta ·

Nie almal wat n verlore hond vind is altyd van plan om hom terug te gee nie al het hy sy hele pedigree om sy nek en op microchip

Stella ·

Hoop Olive word gou gevind. Sterkte konstabel Katikati; dis soveel meer as net ‘n hond. Maroela Nuus hou ons asb op hoogte ??

Beanie ·

Hierdie moet op Facebook gedeel word asb…LET’S FIND OLIVE

Erica Burger ·

Ek sien Olive is gevind, veilig en ongedeerd. Dankie daarvoor

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.