Saptu vies oor laat verskaffing van entstof

(Foto: Andres Larravere/AFP)

Die South African Parastatal and Tertiary Institutions Union (Saptu) het sy misnoeë te kenne gegee oor pres. Cyril Ramaphosa se aankondiging dat ʼn entstof teen Covid-19 eers teen die tweede kwartaal van aanstaande jaar in Suid-Afrika beskikbaar gaan wees.

Ramaphosa het Maandagaand ook gesê 4 630 gesondheidswerkers in staatsfasiliteite het in Desember Covid-19 opgedoen. Dit bring die getal sedert die uitbreking van die pandemie op meer as 41 000 te staan.

“Ons lede is op die voorste linies en stel elke dag hul lewens in gevaar. Hulle beskerming en veiligheid behoort elke dag geprioritiseer te word. Dit is ondenkbaar dat hulle tot naastenby April sal moet wag om die entstof te ontvang,” het adv. Ben van der Walt, algemene sekretaris van Saptu, gesê.

Saptu eis ook antwoorde oor waarom Suid-Afrika die spertyd gemis het om ʼn deposito van R238 miljoen te betaal om toegang tot die Covax-entstofprogram te verseker en of dit ʼn bydrae gelewer het tot die datum wat dit beskikbaar gestel gaan word.

Ramaphosa het vroeër gesê die entstof word in die eerste kwartaal verwag.

“Ons gaan aan die betrokke departemente skryf om te bevestig dat openbare gesondheidswerkers, ons lede, die eerste sal wees om die entstof te ontvang,” het Van der Walt gesê.

Hy sê hulle soek ook duidelikheid oor hoe Suid-Afrika gaan verseker dat die uitstaande bedrag betyds betaal sal word.

Saptu het ook ʼn beroep op Suid-Afrikaners gedoen om die gesondheid van die land se mediese korps in hul alledaagse bedrywighede in ag te neem.

Die DA het intussen gesê hy neem met kommer kennis van ʼn voorstel dat van die eerste mense wat moontlik entstof teen Covid-19 in Suid-Afrika kan ontvang, veroordeelde gevangenes is.

“Ons vertrou dat die voorstel nie aanvaar of in werking gestel word nie.”

James Selfe, die DA se woordvoerder oor korrektiewe dienste, het gesê tronke is weens oorbevolking en klein ruimtes moontlik groot verspreiders van die pandemie. Hy sê amptenare moet dus as voorste linie-werkers geklassifiseer word en vir entstof kwalifiseer wanneer dit beskikbaar is.

“Hulle werk is gevaarlik genoeg; die minste wat die staat kan doen is om te help om hulle teen infeksie te beskerm.

“Daar is letterlik miljoene hardwerkende, belastingbetalende lede van die publiek wat aan dieselfde gevaar blootgestel word en daardie Suid-Afrikaners verdien toegang tot die entstof voor dit aan gevangenes verskaf word.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.