Sapu kritiseer aanstelling van nuwe polisiehoofde

Khehla John Sitole, nasionale polisiekommissaris (Foto: ANA)

Die Suid-Afrikaanse Polisie-Unie (Sapu) het vandeesweek die nuwe polisiehoofde gekritiseer en gesê dié aanstellings is bloot “begunstigingstoekennings” vir diegene wat lojaal aan genl. Khehla Sitole, nasionale polisiekommissaris, is.

Sapu het gesê hy wil ʼn “streng waarskuwing” aan Sitole rig en dit duidelik stel dat sy jongste aanstellings “totaal onaanvaarbaar” is.

Oscar Skommere, Sapu-woordvoerder, het gesê Sitole se aanstelling van “ongekwalifiseerde adjunk- nasionale kommissarisse” wek “groot kommer” en is boonop ʼn duidelike teken van “begunstiging”.

“Sitole het omstrede mense soos lt.genl. Jacob Tsumane aangestel as die adjunk- nasionale kommissaris van misdaadopsporing en Ntombenhle Vuma van genl.maj. na lt.genl. bevorder in sy nuwe pos as adjunk- nasionale kommissaris van bestuursdienste,” het Skommere gesê.

Hy sê dié aanstellings mag op die oog af geen vrae ontlok nie, maar met nadere ondersoek is dit wel duidelik dat Sitole dié aanstellings bloot gemaak het “om die begunstigingsnetwerk in die Suid-Afrikaanse polisiediens” te handhaaf.

Volgens hom gaan dié aanstellings op ʼn ramp afstuur. Die “opgeblase topbestuur” in die polisie kan selfs moontlik tot verdere onstabiliteit lei.

“Daar is meer verdienstelike polisiegeneraals wat die SAPD kan help bevorder. Sapu vra nie om gunste nie, ons eis regverdigheid en geregtigheid. Om lojaliste met senior en invloedryke posisies te beloon, sal die polisie niks baat nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Huh? ·

Wat op aarde is misdaadopsporing? Het nog nooit daarvan gehoor nie? Miskien ‘n vertaalfout of dalk het die SAPD so ‘n nonsens term geskep. Daar is opsporing van gesoektes (tracing) en misdaadoplossing (crime detection) of misdaadondersoek (investigation), maar crime tracing? Aikona. Kan iemand die geagte minister v polisie mnr Cele vra waarom hy skielik en sonder rede die afgelope paar dae bevorderingsposte by die DPCI (Hawks) stop gesit het terwyl kandidate al gekortlys is? Dit terwyl generaals-majoor soos vlieë bevorder word na luitenant-generaals? Het Cele sy mes in vir die DPCI omdat Sitole nie vd DPCI hou nie? Kan Sapu en Solidariteit bietjie die sakie aanroer?

Dafer ·

Maroela, hang hierdie een teen die muur en hou dit asseblief vir ons dop!

dr Sakkie van der Merwe ·

Dit is niks vreemd in die nuwe SA nie, ek krap jou rug en jy krap my rug. Hierdie tendens of kultuur is eie aan Afrika. Hoe kan mens vertroue he in die polisie. Jammer vir die manne in Blou wat wat nog werklik poog om misdaad te beheer. As die kop vrot is dan kan die liggaam nie werklik funksioneer nie.

Elizabeth ·

As ons ontevrede is, moet ons so lank en so dringend kla dat die aanstellings ongedaan gemaak word.

Oom Kalahari ·

@Huh, het jy al van die woord kriminele werskeppings program gehoor? Noem maar net met tong in kies.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.