Sarah Baartman se spiertier skrik nie vir harde werk

Dehan de Bruyn. (Foto: Verskaf)

Wanneer Dehan de Bruyn nie boewe jaag nie, werk hy voltyds daaraan om sy liggaam in topkondisie te kry, met die droom om internasionaal aan liggaamsboukompetisies deel te neem.

Dit is egter nie maklik nie, vertel hy. Dit verg onwrikbare deursettingsvermoë en toewyding.

Dié 23-jarige spiertier werk as wetstoepasser by die Sarah Baartman-distriksmunisipaliteit in die Oos-Kaap. Agter die skerms is hy egter ʼn voltydse liggaamsbouer.

Stel jou die verantwoordelikhede van ’n wetstoepasser voor – lang skofte, nagte, naweke en openbare vakansiedae.

Liggaamsbou, wat dikwels as ’n 24-uur-sport beskou word, vervleg die ingewikkeldheid van die regte dieet, energieverbruik en jou slaappatroon.

Vir De Bruyn is dit ’n prestasie op sigself om deur hierdie elemente sy pad tot sukses oop te veg. Tog strewe hy na ʼn eenvoudige leefwyse: “Jy kan verskonings of resultate hê, nie albei nie”.

De Bruyn het in September 2022 vir die eerste keer aan die PCA‑ provinsiale kompetisie deelgeneem, waar hy twee podiumplekke in die mans-opeklas-afdeling verower het.

Dehan de Bruyn op die verhoog. (Foto: Verskaf)

ʼn Paar maande later het hy hierdie kompetisie op die podium verskyn.

Hy het in albei hierdie kompetisies vir die Suid-Afrikaanse kampioenskap gekwalifiseer, maar weens sy besige program as wetstoepasser en om finansiële redes, kon hy nie nasionaal deelneem nie.

Hy het ook al ʼn rits prestasietoekennings as wetstoepassingsbeampte ontvang.

Dit sluit in erkenning vir sy toewyding aan die Kouga-munisipaliteit, asook ʼn sertifikaat vir uitnemendheid as wetstoepassingsbeampte.

“Wetstoepassing, omgee en om oplossings te vind, is my passie. Ek is iemand wat ʼn verskil wil maak en ʼn voorbeeld wil wees wat almal graag wil volg. Oefening is maar net een daarvan.”

Wat liggaamsbou betref, skryf hy sy goeie prestasie grotendeels aan sy afrigter, Jacques du Preez, toe.

“Jacques het in my geglo. Die plan was nooit om op ʼn kompeterende vlak deel te neem nie, maar hy het my potensiaal raakgesien en vierkant agter my gestaan.”

De Bruyn sê toe hy vir die eerste keer kompeterend deelgeneem het, het hy ’n opwelling van adrenalien gevoel – ’n mengsel van senuwees en opgewondenheid ná maande se harde werk en vasberadenheid.

Hy en Du Preez beoog om volgende jaar aan die PCA Battle of the Titans deel te neem waar De Bruyn hopelik sy toerkaart kan verower. Dit beteken dat hy wêreldwyd kan deelneem. Die 23-jarige weet dit is geen maklike taak wat op hom wag nie.

Stokperdjie eintlik voltydse werk

De Bruyn beskryf die voorbereiding vir kompetisiedag as moeisaam, gevul met uitmergelende oefensessies, noukeurige maaltydbeplanning en onwrikbare toewyding.

Die opleiding, ses dae per week, begin reeds teen 05:00, met kardio-oefeninge in die gimnasium

Sy skof by die munisipaliteit begin reeds om 06:00, “so hy moet die beste van elke minuut maak”.

Sy tipiese maaltydplan voor ’n kompetisie bestaan ​​uit hawermout, eiers, vis, rys en groente, asook baie water. Omdat hy nie altyd toegang tot ʼn mikrogolfoond by die werk het nie, moet hy maar soms met koue kos tevrede wees.

Dehan de Bruyn en sy afrigter, Jacques du Preez. (Foto: Verskaf(

Hy moedig enigiemand aan wat ʼn doelwit of droom voor oë het, om dit na te jaag.

“Deur deursettingsvermoë en onversetlike toewyding kan selfs die mees skrikwekkende struikelblokke oorkom word.”

 

 

 

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.