Sarel van Sabie oorlede

Lees ook:
“In ons harte leef hy voort”
Roudiens vir ‘Sarel van Sabie’ gehou

Sarel Loots. Foto: Facebook

Sarel Loots. Foto: Facebook

Sarel Loots, beter bekend as Sarel van Sabie van MasterChef SA-faam, is vroeg Maandagoggend in die ouderdom van 45 oorlede.

Tia Loots Reyneke, ‘n familielid, het Maandagoggend op Facebook geskryf: “Ons wonderlike talentvolle neef Sarel (van Sabie) is gisteraand oorlede. R.I.P liewe neef ons gaan jou baie mis! Innige simpatie aan jou gesin. XXX”

Hetta Saunderson, Loots se bestuurder, het aan Maroela Media gesê hy was die naweek in Pretoria vir die SARCDA-handelskou wat by die Gallagher-konferensiesentrum in Midrand gehou is.

Saunderson sê hy het by vriende in Pretoria gebly en is omstreeks 3:00 Maandagoggend aan vermoedelik ‘n hartaanval dood.

“Hy sou Maandag teruggekeer het Sabie toe. Die nuus is ‘n groot skok vir vriende en familie.”

Medelye stroom intussen in op Loots se Facebook-blad.

“R.I.P Sarel Loots, jy gaan nou vir baie mense kos maak in die hemel,” skryf Hardus Koekemoer.

Sarita Erasmus het geskryf: “Sarel jy het diep spore getrap in Sabie en Graskop! Jy het diep in die mense regoor Suid-Afrika se harte geklim!! Ons harte gaan uit na jou gesin, familie en vriende!”

Loots het bekendheid verwerf nadat hy onder die vier topfinaliste in die eerste reeks van MasterChef SA geëindig het.

Loots laat sy vrou, Lieze, en drie kinders agter. Die egpaar het ook twee pleegsorgkinders.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Elizabeth ·

My aarde, so jonk nog! Ons onthou hom alte goed met Masterchef en Kokkedoor – altyd reg met ‘n glimlag! Simpatie aan al sy familie en vriende, dit moet regtig ‘n groot skok wees.

Linda du Plessis ·

Sarel dit was ‘n voorreg en eer om jou te kon ken! Die kere wat jy by die Boertjie Kontreifees en ander feeste waar ons ontmoet het, was het jy met soveel liefde en omgee dit waarvoor jy lief was en die passie vir kosmaak, uitgeleef! Ek het met die bietjie saamkuier soveel in my skatkis van herinneringe wat ek gaan koester en ons as gemeenskap op Bultfontein betuig hartseer en meedelye aan almal wie jou lief het en veral sy gesin. Ons gaan jou mis! Veral die mooi glimlag en positiwiteit wat jy oorgedra het! Jy was begaafd met pragtige talente en ons sal jou onthou as Sarel van Sabie wie omgegee het, alles met oorgawe gedoen het en ‘n voorbeeld was om te volg na die EWIGE TROON EN TUISTE.

Daleen ·

Ons het die voorreg gehad om Sarel te ontmoet tydens ‘n kook kompitiesie by Oosterland in Secunda, en wat ‘n wonderlike man, ‘n man wat nederig gebly het en sy lewe geniet het. Innige simpatie aan sy vrou en kinders, hy het met trots oor julle gesels. Weet dat hy gaan gemis word deur almal.

H & E Eksteen ·

Ons innige meegevoel met Lieze en kinders. Eksteens- Harties.

H & E Eksteen ·

Ons innige meegevoel met Lieze en kinders. Eksteens- Harties.

Ronel ·

Liefste Sarel, ons gaan jou so mis. Die seer en verlies kan ons nie beskryf nie. Dankie vir al jou positiewe input in almal se lewens en jou daarwees vir ons almal in ons tyd v verlies. Nou kan jy en pappa lekker groente plant in ons Hemelse groentetuin…………………..

Theresa Bekker ·

Liewe familie, my hart gaan uit na julle…… ek het my man op di ouderdom van 49 verloor!!!! Wees sterk, hou moed……. dit is baie seer seisoen!! Ek dra julle on my gebede op

Marlene ·

Wat n skok. Liewe familie my hart gaan uit na julle. Sarel was n awesome persoon. So jonk weggevat maar nou is hy rustig in God se tuin.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.