SA Rugby (Saru) het gesê hy het ’n ondersoek begin oor Covid-19-regulasies wat oortree is en ʼn klubrugbywedstryd wat plaasgevind het en wat tot die tragiese dood van ’n jong speler in die Oos-Kaap gelei het.
Vizicelo Sebenza Zondani is dood nadat hy die afgelope naweek ’n ernstige besering tydens ’n rugbytoernooi opgedoen het. Die toernooi is in die Ngqwele- informele nedersetting naby King William’s Town aangebied.
Mark Alexander, Saru se president, het gesê die toernooi was strydig met Covid-19-regulasies omdat amateur-rugbywedstryde vir die res van die jaar afgelas is.
“Hierdie tragiese voorval moes nooit gebeur het nie en ons gebede gaan uit na Vizicelo se familie, vriende en spanmaats,” het Alexander gesê.
“Ongelukkig is dit strydig met ons Covid-19-regulasies ten opsigte van die terugkeer na die oefen- en speelveld aangesien alle amateurwedstryde vir die res van die jaar weens die pandemie opgeskort is.”
Volgens Alexander moes die toernooi nooit plaasgevind het nie en ’n ondersoek is na die voorval, sowel as die toernooi, van stapel gestuur.
SA Rugby het weer eens bevestig dat amateurklubs, universiteite en skole onder streng voorwaardes na die oefenveld mag terugkeer, maar dat wedstryde vir die res van 2020 verbode is.
Oh, so is hy nou dood van n besering of oortreding van die regulasies?
Los die mense dat hulle aan sport kan deelneem. Dit hou hulle gesond en uit die kwaad. Te hel met die virus. Hoe lank wil hulle die virus voorgooi vir alles?