Sasbo wil appelleer teen verbod op staking

sos-onderwyskongres-pepper-robot

(Argieffoto)

Die bankwerkersvakbond Sasbo gaan ʼn dringende hofaansoek indien teen ʼn bevel van die arbeidshof wat sy lede verbied om te staak.

Cosatu, die vakverbond waarvan Sasbo deel is, het Donderdag gesê die stryd teen werksverliese by banke “is net uitgestel, nie gekanselleer nie”.

“Cosatu het kennis geneem van die hofbevel wat die beoogde staking deur Sasbo en Cosatu in die finansiële bedryf verbied,” het Cosatu in ʼn verklaring gesê.

“Ons stem glad nie saam met die hof se besluit nie, maar respekteer wel die regstelsel en sal by die bevel hou terwyl ons ʼn dringende aansoek daarteen indien. Ons doen ʼn beroep op al ons lede en alle werkers wat gereed was om môre te staak om die hof se besluit te respekteer en aan te meld vir werk, maar om steeds gevegsgereed vir die stryd vorentoe te bly.”

Regter Hilary Rabkin-Naicker het vroeër bevind Cosatu en Sasbo het versuim om te voldoen aan die bepalings van die Arbeidswet wat verband hou met betogings en die verdediging van die sosio-ekonomiese regte van werkers.

Business Unity South Africa (Busa), wat die banke verteenwoordig, het die hof genader om die landwye staking wat vir môre beplan is, te stuit. Busa het aangevoer Sasbo het nie die regte stappe gevolg voordat hy met sy optrede begin het nie.

Sasbo is woedend oor dreigende afleggings in die bedryf, grootliks weens digitalisering.

Suid-Afrika se vier grootste banke skaal verskeie van hulle bedrywighede af deur sommige takke te sluit, of ander te laat saamsmelt om bankdienste meer vaartbelyn te maak.

Standard Bank het reeds meer as 104 takke gesluit en meer as 1 000 werksgeleenthede is geraak. Nedbank, FNB en Absa het ook hulle takke verminder. Absa het sy takke verminder van 885 in 2011 tot 698 in vanjaar se eerste kwartaal.

Môre se staking het gedreig om die bankwese, waaronder ook kitsbanke, landwyd tot stilstand te dwing.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Anoniem ·

Kan hierdie mense nie sien hoeveel probleme is daar al klaar in die land maar nog steeds wil hulle staak. Miljoene sit en krupeer van ellende maar staak wil hulle staak. Hoekom staak hulle nie om op te hou eet dan kan hulle nou maar die ewigheid ingaan sodat die wat bereid is om te werk nog kan lewe en help om die ekonomie aan die gang te hou.

Christo ·

Die hondjie sonder tande het weereens ‘n foutjie begaan…nie die regte prosedures gevolg nie. Ek wonder sommer maar net hoeveel bank amptenare kan hiervan getuig.

Christo ·

Die hondjie sonder tande het weereens ‘n foutjie begaan…nie die regte stappe gevolg nie. Ek wonder sommer maar net hoeveel bank amptenare kan hiervan getuig.

Bert ·

Eers word daar gestaak vir belaglike verhogings en byvoordele.
Dan as die maatskappye dit nie meer kan bekostig nie, staak hulle teen werksverliese.
Maak baie sin nè???

Jaco ·

SASBO wys maar net weer hoe oneffektief SASBO is en absoluut niks vir sy lede beteken nie

Hendrik van George ·

Net in Afrika waar jy staak teen werkverliese….. ????

Hartseer ·

Ek kan nie verstaan dat soveel takke gesluit is en ons bankfooie dieselfde bly nie. Die bankfooie moet mos dan afkom. Minder personeel om te betaal. So hoekom is ons bankfooie nog so duur? Of kry ‘n paar mense ‘n lekker verhoging ten koste van ander mense? Dink ek verkeerde? Ons land kan nie aanhou om heeltyd mense af te lê nie. Dit moet stop. Dit skep ‘n groter las vir die belasting betaler, want ons sal die mense moet dra wat hul werk verloor het. Ek stem nie saam met die stakings nie, maar ek verstaan die mense se frustrasie.

Hartseer ·

Ek kan nie verstaan dat soveel takke gesluit is en ons bankfooie dieselfde bly nie. Die bankfooie moet mos dan afkom. Minder personeel om te betaal. So hoekom is ons bankfooie nog so duur? Of kry ‘n paar mense ‘n lekker verhoging ten koste van ander mense? Dink ek verkeerd? Ons land kan nie aanhou om heeltyd mense af te lê nie. Dit moet stop. Dit skep ‘n groter las vir die belasting betaler, want ons sal die mense moet dra wat hul werk verloor het. Ek stem nie saam met die stakings nie, maar ek verstaan die mense se frustrasie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.