Sasha-Lee kry haar 11 A’s

Sasha-Lee Roestorff (Foto: Maroela Media)

Sasha-Lee Roestorff (Foto: Maroela Media)

Sasha-Lee Roestorff, wat in Januarie verlede jaar álles in ʼn brand verloor het én boonop haar lewe lank al in stilte teen swaar omstandighede stry, het 11 onderskeidings in die matriekeindeksamen ingepalm.

Maroela Media het vroeër verlede jaar berig Sasha-Lee van die Hoërskool Riebeeckrand in Randfontein het 11 onderskeidings in die matriek-rekordeksamen behaal én ʼn beurs verwerf om aan die Universiteit Stellenbosch te studeer.

Sasha-Lee het in die matriekeindeksamen A’s vir al haar vakke behaal:  Afrikaans, Engels, wiskunde, lewensvaardigheid, inligtingstegnologie, ekonomie, geografie, fisiese wetenskappe, lewenswetenskappe, besigheidstudies en rekeningkunde.

Sasha-Lee getuig sy het al baie terugslae ervaar in haar lewe, veral in haar hoërskool loopbaan. 14 Januarie 2016 was ʼn vreeslike dag. ʼn Dag wat vir áltyd in haar geheue geëts sal bly. Sy het daardie dag met net haar skooltas en -klere in haar hand staan en kyk hoe ʼn verwoestende brand alles vernietig – elke besitting en enigiets wat ʼn mooi herinnering verewig het. Die brand het nie net haar blyplek verwoes nie: nou sou almal van haar weet, dat sy al vir jare haar swaarkry wegsteek. Sy het gegryp wat niemand van haar kan vat nie: haar toekoms.

Sy was eers kwaad, sê sy. Kwaad, want dit was nie die eerste keer dat sy haar skooltas en -klere moes gryp en hardloop nie. Haar pa was ʼn “wrede man” en sy moes talle kere voor dié voorval ook sommer in die loop haar kosbaarste besittings gryp. Hy het hulle gereeld uit die huis gejaag. “Ek was al gewoond daaraan om te vlug. Dit was altyd my skooltas en -klere, sodat ek die volgende dag sommer net skool toe kon gaan. Daarom het ek nie eens gedink dit was vreemd om net te gryp en hardloop nie,” sê sy.

“Ek het nie gedink ek sal die terugslag oorleef nie, maar deur die Here se genade en my wonderlike ondersteuningstelsel en my ma is ek deur my matriekjaar gedra.  Alles wat ek bereik, is regtig net uit genade, want ek het nie altyd die gemak wat ander het nie. Ek sien terugslae as uitdagings en dit motiveer my net soveel meer om ‘n terugkoms te maak.”

Toe die pa vort is, het sy en haar ma, Jo-Ann, sonder ʼn dak oor hul koppe gesit. Sy was in graad 10 en wou ʼn jaar van skool afvat totdat hulle op hul voete kon kom. Daarvan wou haar ma niks weet nie. Sy het as tuisteskepper vir ʼn vrou gewerk wat aangebied het sodat dié twee agter in hulle tuinwoonstel kon bly. “My ma wou nooit opgee nie. Sy het al ons meubels verkoop sodat ek graad 10 kon voltooi,” sê Sasha-Lee. “My ma is my rots en sonder haar sou niks moontlik gewees het nie.”

Sy sou die vakansie saam met twee vriendinne Hartenbos toe gaan. Sasha-Lee gaan vanjaar aktuariële wetenskappe studeer. Sy sê sy het aktuariële wetenskappe gekies, juis omdat dit ‘n uitdagende beroep en studierigting is en sy graag ‘n mooi einde aan haar storie wil skryf.  Sy wil graag ‘n inspirasie wees vir kinders wat deur moeilike omstandighede gaan en vir hulle wys alles is moontlik en dat jou omstandighede jou nie maak wie jy is nie.

Sasha-Lee skerts dat slaap eintlik jou hoofbelangstelling is in matriek, maar dat sy ook lief is vir skryf en die lees van letterkunde.  Sy vertel die terugslae en die seer wat sy oor die jare ondervind het, het haar na digkuns laat wend.  Sy vind skryf terapeuties:  “Ek kan menige male net skryf om die seer te verwerp. Ek vat seer herinneringe en skryf dit neer en laat dit rym. Ek verkies eerder om gedigte te lees en ek het nie ‘n spesifieke boek nie.  Sy plaas graag van haar werk op Twitter.

Haar lewensfilosofie is kort en kragtig: “Beskerm jou hart.”  Sy dank die Hemelse Vader wat haar sterk gehou en bewaar het deur haar skoolloopbaan.  Sy sê ook sy het ‘n goeie ondersteuningstelsel wat bestaan uit onderwysers, vriende en familie . Hulle het almal ‘n groot rol gespeel in haar akademiese sukses.

Sasha-Lee  het ook op die skool se beheerliggaam gedien en was vanaf graad 9 elke jaar op die graad-raad.  In matriek was sy onderhoofdogter.  Sy neem aan individuele- sowel as groeps-redenaars mee.

Lees alle vorige berigte oor Sasha-Lee.

Lees berigte oor ander toppresteerders hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

56 Kommentare

Marinda Hattingh ·

Jy is een van die grootse inspirasies. Baie sterkte met jou toekoms, mag dit báie mooi inhou. En jy het die wonderlikste ma.

Sanet Van Rooyen ·

Jou oe wys die mooi in jou Sasha-Lee..bly altyd so nederig en wees altyd dankbaar vir wat mamma vir jou gedoen het..

broos ·

Well done meisiekind! Mag jy 1000x terugkry wat jy verloor het en jou pad vorentoe blessings op blessings inhou!

Linda Nel ·

Baie Geluk. Jy het rede om baie trots op jouself èn jou mamma te wees. Bou so voort!

Marietjie ·

Sasha-Lee ek wil jou geluk wens met hierdie mooi prestasie. Sprei jou vlerke my kind en vlieg so hoog soos wat God jou sal dra. Jy is voorwaar n inspirasie.

Yolande ·

Swel my hart sommer van trots. Baie geluk. Sien al die mense daarbuite nou dat harde werk vrugte afwerp.
Ek self het net so swaar grootgeword. Ek vertel nou die dag vir my seuntjie ek onthou dat daar op n staduim net n sak aartappels in ons huis was. As jou ma ry om n kospakkie by die kerk te gaan optel sien jy uit na die koffie in die pakkie. Ek onthou die muffins een jaar in die kerk se pakkie, spar skenking en die vervaldatum was al lankal verstreke. Maar dit was die lekkerste muffins ooit. Ekt hard geleer, dag en nag. Na Matriek begin werk by 3 verskillende plekke en al my geld gespaar vir 6mde om my studies te betaal. Ekt my 4 jaar vooruit klaar betaal na daardie 6 mde. Vandag besit ek my eie onderneming, en swot deeltyds. Dis al wat mens ken as jou kaarte nie reg gedeel is nie, opstaan en baklei

Anton ·

Jou storie is vir my ook mooi. Baie dankie vir jou beskrywing van deursettingsvermoe. Sterkte met jou swottings en onderneming

Johan Bezuidenhout ·

Wat ‘n inspirasie. Welgedaan. Mag jou nuwe lewe besaai wees met rose. Voorspoed.

Kobus ·

My Kind…Jy ken my van geen kant af nie,maar dat hierdie Oom vir jou vandag se….JOU MOEDER IS DIE ROTS WAARUIT JY JOU INSPIRASIE GEPUT HET….NET SO SAL JY DIE INSPIRASIE VIR JOU NAGESLAG WEES….Baie geluk en alle sukses met jou studies…Jou lewensverhaal tot nou het trane in my oe gelaat…Mag dit vir altyd die verlede bly….Rig jou oe na Bo en gryp met albei hande wat die Vader vir jou as talente gegee het….Jy SAL n sukses van jou lewe maak…want deur die swaar van die verlede het jy gegroei tot n uitsonderlike positiewe Mensie….Jy mag met ons as die Maroela Familie…Al jou toekomstige suksesse deel…Ons hoor graag van jou…Sterkte!!!

CAB ·

Baie mooi en geluk. Ek glo jy sal n inspirasie wees Vir duisende kinders. Om uit sukkel omstandighede op te Staan is regtig wils krag.

Liana ·

Ek ken jou nie maar het gelees van julle verlies verlede jaar. Baie Baie geluk met die uitslae. Mag die HERE jou dra in die studie jare wat vir jou voorlè. Geluk ook aan jou mamma wat jou so ondersteuning gee.

Marietjie ·

Sasha-Lee jy is die grootste inspirasie ooit en ek glo en weet God het groot planne vir jou! Moet nooit skaam wees vir jou verlede nie want jy kan meer as trots wees om so bo jou omstandighede uit te styg. Jy is absoluut n idol om na op te kyk. Geniet jou studies en weet verseker dat Jesus vir jou en jou wonderlike mamma SAL voorsien!!

Bosbok ·

Jy is so n insperasie vir my, dat ek hierdie artikel gaan hou en vir my jong dogters gereeld gaan voorlees. Hulle begin eersdaags met graad 1 en wie weet wat oor hulle pad kan kom – selfs sonder drama’s raak mens ook soms maar mismoedig. Alles van die beste vir jou. Hoop om nog positiewe artikels van jou te lees in jou volgende lewenshoofstuk

Wilma ·

Jy laat my hart warm klop, pragtige jong dame. Ek sien unit om Meyer van jou te hoor. Mag die Here jou beskerm en bewaar.

ALTA VAN ZYL ·

Sasha-Lee, “baie geluk” klink nie goed genoeg nie. Ek wens ek kon op hierdie oomblik my hart vir jou oopmaak dat jy kon “lees” wat daarin staan. As ek so voel, kan ek my net probeer indink hoe trots jou moeder moet wees. Ek sou graag vir haar ‘n yslike medalje wou gee. Jou motto in die lewe, dra ek gereeld aan jongmense oor wanneer ek hulle gelukwens – hetsy verjaardae, prestasies, of wat ookal: Die Skrif se uitdruklik: “Bewaak jou hart meer as alles wat bewaar moet word, want daaruit is die oorsprong van die Lewe!” God seen julle. XX

Jackie ·

Baie geluk! Jy is ‘n pragtige mens en ‘n inspirasie vir ander. Ek bid jou alle sukses en voorspoed toe. Mag Jesus jou altyd styf vashou en jy groot hoogtes bereik xxx

Jannette ·

Wow! Baie geluk! Mag jou toekoms net mooi en kosbare dinge inhou. Ons bid guns, genade en baie vreugde vir jou en jou moeder se pad vorentoe. Jy is pragtig en baie spesiaal…ons weet Vader God het n groot plan met jou lewe. Xxx

JC Engelbrecht ·

Sasha en Yolanda, dit doen die hart sommer baie goed om te sien hoe julle bo julle omstandighede uitgestyg het! Alle voorspoed vir die pad vorentoe!

Wim ·

Baie, baie geluk mag jy en jou Ma net net voorspoed beleef vorentoe. Jy is n bewys dat al gaan mens deur hoe moeilike omstandighede n mens kan uitstyg as jy hard werk en in jouself glo en in jou Skepper.Wat n voorbeeld is jy nie vir die klomp wat heeldag kla hulle het nie geleenthede gehad nie. Baie trots op jou al ken ek jou nie. Mag God jou en jou wondelike Ma net seen.

BOLNDER ·

Jy is die grootste inspirasie wat ‘n mens denkbaar kan aan dink. Ek het ook sonder ‘n Pa groot geword en my Moeder was die BESTE. ek is nou wel nie ‘n dokter, prof of enige ander hoë kop nie, maar ek doen glad nie sleg nie. Werk vir die grootste “Retail” firma in die land. Sy is nie meer daar nie maar sou baie trots op my gewees het. Nogmaal baie geluk!!!!

Alta ·

Baie geluk Sasha Lee. Al die kommentaar verwoord my gelukwensinge. Maar KOBUS s’n staan uit ad GROOT WAARHEID!!!!!

Ilse ·

Sasha-Lee jy is voorwaar ñ inspirasie vir baie kinders wat in moeilike omstandighede grootword. Dit wys net dat jou omstandighede nie jy drome mag keer nie. Mag jy ñ groot sukses van jou lewe maak en ek hoop die dag as jy graad vang sal jy dit weer met ons deel.

Jan Olivier ·

Baie geluk Sasha, jy verdien tonne respek en agting vir jou positiewe uitkyk en deursettings vermoë. Mag die Liewe Vader jou en jou Ma veilig in Sy hande hou, en mag die toekoms blink wees.

Sonja ·

Sasha Lee jy is ‘n voorbeeld van aanhou en vertrou op die Here. Ons as volwassenes kan by jou leer. Ek is seker daar wag ‘n blink toekoms op jou.

Ina ·

Sasha-Lee, vir solank was jy in ons almal se gedagtes, dat toe ek vandag die berig lees ek wou bokspring van vreugde vir jou. Dankie Maroela dat julle ons op hoogte hou van mooi suksesverhale. Mag die toekoms net vir jou liefde, vreugde, vrede en sukses en nog vele meer wat mooi is inhou. Ek het self 2 suksesverhale in my lewe, my seun en dogter, en wil net sê dat jy daai moeder van jou moet styf vashou en haar opdra aan God. En kap die ketting af met die waentjie vol swaarkry, moet dit nie saamsleep nie. Die swaarkry in die verlede sal altyd deel wees van jou lewe maar moet nie dat dit jou lewe word nie. Dis soos om kaart te speel, dis nie oor watter kaarte jy gaan kry nie, maar oor hoe jy dit gaan speel.

E.K. ·

Jy is ‘n wenner en ‘n voorbeeld vir so baie wat net gedurig brand en breek om hul sin te kry. Jy het in stilte voortgegaan en GEWERK vir elke punt, MOOI so!

Annelie Smith ·

Wat ‘n wonderlike bemoedigende storie! Jy is ‘n inspirasie vir baie en ‘n bewys dat ‘n mens bo jou omstandighede kan uitstyg Sasha-Lee! En jou Ma is die woord Ma werd, pas haar soos goud op as sy eendag oud is. Hoop dat jou toekoms met rose besaai sal wees!

Magriet le Roux ·

Jy kan nie verstaan hoe trots jy op jouself kan wees nie. Welgedaan

Liza ·

Sasha-Lee ek kyk so na jou foto en ek sien die mooi aan die binne en buite kant…..En my oe is vol trane …. baie geluk Sasha-Lee dis ‘n baie groot prestasie…… dit wat jy moes deurgaan en na alles bly jou geloof sterk en jy presteer…….. welgedaan pragtige dogter, en jou moeder jy kan trots wees op haar na alles was jou moeder daar vir jou…… Mag God met julle wees vorentoe en bewaar en sterkte met jou toekoms vorentoe…… Sjoe wat ‘n amazing verhaal …

Lenie ·

Baie geluk Sasha – Lee, dit wys net weereens, al is jou omstandighede hoe moeilik, met ons Heer se genade kan jy opstaan en hierdie reuse sukses behaal. Hou so aan, jy gaan nog groot hoogtes bereik. Jou Moeder is beslis vandag baie trots op jou. Jy maak ook sommer ons SA trots op jou.

Charmaine ·

Sjoe, ek lees die berig maar trane verblind my. Ek het haar storie gelees n vorige keer en kan nie glo daar is ouers wat hulle kinders so sleg behandel nie. En kyk nou net, hoop die nikswerd pa as hy nog leef sien wat se wondeike kind het hy verloor. En sy is so n mooi kind sy kan sommer n model ook wees.

Lizelda ·

Sjoe! Wat n inspirasie vir soveel mense wat dink “ek kan nie want my omstandighede…” “ek het nie want my omstandighede.” Baie geluk Sasha-Lee jy is voorwaar n inspirasie vir oud en jonk. Mag jou toekoms baie seeninge inhou. Laat weet ons hoe dit met jou studies gaan. :-)

aangrypend ·

Sjoe…..kosbaar verby en groot inspirasie vir almal. Jy is n wonderlike mensie en met n kosbare moeder en weet Jesus hou julle styf vas. Sterkte en net die mooiste vir jou toekoms en in als. Jou ma sowaar n rots en jy n besondere mensie. Seeninge!

Frikkie ·

Mag die HERE julle seen en behoed en mag julle Sy Vrede ervaar.

Connie ·

Klein vasbytertjie. Jy sal nog ver kom. Sterkte vir die toekoms en kyk na jou mamma. Sy is nie jou mooiste nie maar enigste. Soos myne altyd vir my sê. Mooi loop, Meis.

E.K. - ek sê net! ·

Ek wonder of haar pa nou nie skaamkry oor sy gedrag teenoor so wonderlike kind nie! Weereens mooi so meisiekind!

Bill Rundle ·

‘n Wonderwerk, geen klagtes, a voorbeeld vir al wat ‘n mens is in hierdie wereld.
Pragtig

vanessa vorster ·

Sjo wat ‘n prestasie. Jy is ‘n besonderse meisiemens. Jy is so ‘n inspirasie gewees vir die jaar se gr 8 meisies. Elke Rierander staan met trots vandag en weet dat God en jou deursettingsvermoee jou gedra het tot hier vandag

Marita Nunes ·

ek het ook my pad oopgeveg vandat ek verstand het met ‘n alkoholispa en een wat my ma so mishandel het, dat sy net Valiums gedrink het en geslaap het. ek het in depressie verval en so groot geword. tot vandag is my lewe een groot gesukkel, maar ek sal nie bes gee nie. ek staan weer op. dit is wat ek vir jou wil se Sasha Lee ons is wenners…… jy is so ‘n inspirasie vir so baie mense. ek wens jou alles van die beste toe meisie. jy sal heelbo uitkom

Brenda ·

Jy is nie net vir kinders ‘n inspirasie nie maar vir almal volwassenes ook. Jy is ‘n perel pop. Baie sterkte met jou nuwe begin en Gods rykste seen vir jou ??

Elsabe Lottering ·

Hi pragtige mensie. Jy ken my ook nie maar ek wil net vir jou se pragtig hou so aan en aan moeder geluk met die pragtige kind jy moet baie trots wees. Ek se altyd ons dien n God van Wonders. Sterkte met jou loopbaan verder met onse Vader aan jou sy gaan jy baie hoogtes bereik. Ek is na jou verhaal nog meer trots om n Suid Afrikaner te wees en dit deur my God want in my hart leef.

jannie ·

Merkwaardig, pragtige getuienis en voorwaar inspirasie vir almal.

Niccy ·

Ai meisiekind nou grens ons almal. Jou beriggie maak tog ook by baie van ons, weer die eina’s van ons eie verledes wat ons ook met God se hulp en Genade te bowe gekom het, oop. Baie sterkte jong en alles van die beste vorentoe. Ek glo dat die God wat ek ken, ook vir jou en jou moeder sal deurdra en dat jul dae vorentoe net vol geluk sal wees.

Mar ·

Baie geluk Sasha-Lee… aanhouer wen en jy SAL bo uit kom… want jy wil. Ek haal my hoed vir jou af en wens jou alle voorspoed, geluk, vrede en vreugde in die lewe toe!!

Marietjie Pta

Poppie ·

Ek glo Sasha-Lee moes hoofmeisie gewees het. As haar huislike omstandighed anders was, sou sy dit beslis gewees het. Want pa en ma was nie betrokke by die skool nie. Jy is ‘n inspirasie vir baie mense Skat. Jy gaan dit nog ver bring.

Danie ·

Baie geluk Sasha-Lee, mag jou pad vorentoe net geseend wees!

Emile ·

Welgedaan Meisiekind.

Pragprestasie en baie voorspoed met jou toekomsplanne.

Stephan ·

Welgedaan!
Kan admin nie reël dat bydraes aan haar gegee/oorbetaal kan word nie?

Anoniem ·

Ek lees jou storie en my kinderjare speel voor my af. Die familie het gedink ons kinders gaan die scrap van die aarde word. Maar deur die Genade van God en ons keuses het ons die fanilie verkeerd bewys. Alles kom neer op keuses. Ons kon ook gaan lê het en ons kinderjare die skuld gee vir ons mislukkings, of ons kon opstaan en besluit ek en ek alleen kan ‘n verskil maak. Baie trots op jou REGTE KEUSE wat jy gemaak het, hou so aan!

LS ·

So TROTS op jou, BAIE RESPEK vir jou liewe moeder.
Sterkte vir julle albei vorentoe, mag God julle hande styf vashou vir die jaar 2017 !!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.