Saskok skors waarnemende president

Die Suid-Afrikaanse Sportkonfederasie en Olimpiese Komitee (Saskok) het sy waarnemende president, Barry Hendricks, voorlopig geskors tydens ʼn vergadering Woensdagaand.

“Mnr. Hendricks is in kennis gestel om nie met die lede, raad, bestuur of personeel in verbinding te tree tot die ondersoek afgehandel is nie,” het Saskok in ʼn verklaring gesê.

Die organisasie het Aleck Skhosana, president van Atletiek Suid-Afrika, aangestel om Hendricks se pligte oor te neem in sy afwesigheid.

Talle raadslede wat ingestem het om Hendricks te skors beplan om hulself beskikbaar te stel vir die verkiesing van die pos.

Hendricks het egter versoek dat Saskok ontbind moet word en ʼn onafhanklike administrateur aangestel moet word. Hy het skriftelik dié versoek gerig aan die presidente van alle sportfederasies onder die Saskok-sambreel. In die brief het hy gesê Saskok versuim in sy pligte en die organisasie “is op die randjie van ʼn finansiële ineenstorting”.

“Ek is van mening dat talle van die huidige raadslede, veral diegene wat aan die verkiesing gaan deelneem, ʼn belang het in die uitslag van die arbitrasie en is dus in konflik en moet nie verder op enige manier betrokke wees nie,” het Hendricks bygevoeg. “Dit is ongelukkig duidelik dat die raad van Saskok sy pligte en verantwoordelikhede versuim en is, volgens my, onbekwaam om dit self reg te stel.”

Hendricks het ook sportminister Nathi Mthethwa en die Internasionale Olimpiese Komitee skriftelik genader.

Die kwessie het ʼn paar weke gelede begin toe sekere nominasies vir die Saskok-verkiesing verwerp is. Hendricks het onlangs in ʼn TV-onderhoud gesê ʼn groep onafhanklike persone het besluit watter nominasies goedgekeur sou word. Van die persone wie se nominasies verwerp is, is Skhosana en Tambi Ravele, raadslid van Tennis SA.

Geen nuwe datum is vir die verkiesing bepaal nie, weens die Covid-19-pandemie. Skhosana sal tot dan waarneem as president.

ʼn Vergadering is vir Woensdag belê ná Saskok ʼn verslag ontvang het van ʼn advokaat wat aangestel is om bewerings van onetiese gedrag teen Hendricks te ondersoek dat hy glo Ravele se nominasie wou verhinder. Hendricks ontken die bewering.

Adv. Baloyi-Mere het aanbeveel dat die saak na arbitrasie verwys moet word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Niklaas ·

Soveel van diegene wat hom help skors het wil nou sy plek inneem, word berig . Lyk vir my na groot sameswerings hier teen Hendricks.

Fedup ·

Rather out than in, Barry. You will much better somewhere else, where uou will be appreciated. No worries.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.