Brig. Selvy Mohlala, woordvoerder van die polisie, het gesê daar is geen vorm van identifikasie by die man se liggaam gevind nie. DNS-monsters is geneem om die man se identiteit te probeer bepaal.
Maroela Media het vroeër berig die man se kop is op ʼn vervoerband gevind wat gebruik word om steenkool te vervoer. ʼn Soektog na die liggaam is onmiddellik deur personeel en die polisie van stapel gestuur. Die liggaam, sonder ʼn regterarm, is later in een van die steenkoolskagte gevind. Volgens Mohlala is die regterarm naby die liggaam gevind.
Alex Anderson, Sasol se hoof van mediabetrekkinge, het die voorval bevestig. “Die oorledene is nie ’n werknemer van Sasol nie. Die voorlopige ondersoek toon dat die oorledene, wat nog nie geëien is nie, ongemagtigde toegang tot die fasiliteit verkry het. Sasol neem die veiligheid van alle personeel en die gemeenskap ernstig op, en gee sy volle samewerking aan die betrokke owerhede.”
Brig. Mohlala het egter gesê die polisie se ondersoek sluit nog nie die moontlikheid uit dat die oorledene as ʼn kontrakteur vir Sasol gewerk het of moontlik ʼn werker van een van die kontrakteurs was nie. Mohlala het gesê dit is in dié stadium nog nie duidelik of daar vuilspel betrokke was nie.
Die polisie het enigiemand met inligting versoek om die polisie in Secunda by 017 624 2125 of Crime Stop by 0860 010 111 te bel.
Moorde in ons land word nie WREDER EN WREDER!!!