Sasol-mynwerkers eis R80 m

Sasol se Secunda-aanleg. Foto: Jóhni Steenkamp

Sasol se Secunda-aanleg. Foto: Jóhni Steenkamp

ʼn Siviele regsgeding van R80 miljoen is teen Sasol aanhangig gemaak vir skadevergoeding aan mynwerkers wat longkwale opgedoen het.

Richard Spoor, menseregteprokureur vir die eisers, het aan Sake24 gesê dit moet as waarskuwing vir die hele steenkoolbedryf dien. Spoor hanteer die saak namens 22 werkers wat by Sasol se steenkoolmyne naby Secunda in Mpumalanga werk of daar gewerk het.

Spoor het ʼn aansoek vir skadevergoeding by die hooggeregshof in Johannesburg ingedien en voer aan die werkers is aan steenkoolstof blootgestel en dat hulle gevolglik longsiektes opgedoen het. Steenkoolstof kan longsiektes soos steenkoolwerker-pneumokoniose (CWP), progressief-massiewe-fibrose (PMF) en chronies-obstruktiewe-longsiekte (COPD) tot gevolg hê.

Die eise wissel tussen R800 000 en R10 miljoen en sluit verlies aan inkomste, mediese uitgawes, pyn en lyding en verlies aan lewensgehalte in, het Spoor gesê. “Ons doelwit is nie om sake te wen nie, maar om regverdige vergoeding vir mynwerkers te verseker, of hulle nou ons kliënte is of nie.” Volgens Spoor was daar die afgelope 100 jaar geen aanspreeklikheid hiervoor nie.

“Werkers se gesondheid en hul lewe is baie goedkoop. Om mynreuse verantwoordbaar te hou sal hulle aanspoor om vir hul werkers ’n veilige en gesonde werkomgewing te skep,” het hy gesê.

“Die blote feit dat die werkers siek is, bewys dat die myn misluk het om te doen wat hy moes doen; dit is om die steenkoolstof te beheer en te verminder tot ʼn vlak wat nie skadelik vir sy werkers se gesondheid is nie.”

Volgens Spoor het die myn nie die wetgewing wat daargestel is om mynbou te reguleer, nagekom nie. Dit sluit in om te verseker dat paaie natgemaak en so gehou word om stof te verminder.

“Omdat die myn hom nie by die reëls en regulasies gehou het nie, moet hulle vir die skade aanspreeklik gehou word. Daar is geen rede vir ons om te bewys dat die myn nalatig was nie. Ons hoef bloot aan te toon dat hulle die reëls verbreek en mense gevolglik siek geword het. Ons glo dit is ’n baie goeie saak,” het hy gesê.

Alex Anderson, woordvoerder van Sasol, het aan Fin24 gesê die maatskappy het tyd nodig om deur die dokumente te werk. Hy het bygevoeg dat Sasol die gesondheid en beskerming van sy werkers baie ernstig opneem.

Fin24

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Peet Schabort ·

Daar is seker meriete in die saak. Daar moet egter ook onthou word dat die werknemer ook bewus is van sy bydrae tot veilige werksomstandighede. Gedurende my 25 jaar op-, of liewer in Evander se goudmyne was ek bekend as ‘n baie hardegat outjie wat nie ‘n werksplek binnegegaan het wat gevaarlik was. Wat hier, glo ek, ter sprake is is die natspuit met water van ‘n werksplek om die stof in bedwang te hou. Jammer, ek het geweier om in daardie omstandighede te werk. Nou, 23 jaar na aftrede pluk ek die vrugte van my hardegatgeit wat veiligheid betref. Maar voorspoed met die eis, skep as daar ‘n kans is om te skep.

Peet Schabort ·

Ek het nagelaat dat voorgaande ook betrekking gehad het op die swartmense wat vir my gewerk het. Ook sy mening van ‘n gevaarlike situasie is deur my gerespekteer.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.