Sasol Solar Challenge: NWU is eerste SA span oor die eindstreep

Die span van Noordwes-Universiteit by hul sonkar, die Sirius x25, op 1 Oktober 2016 by die V&A Waterfront in Kaapstad ná die Sasol Solar Challenge 2016  Foto: NWU Solar Car, Facebook

Die span van Noordwes-Universiteit by hul sonkar, die Sirius x25, op 1 Oktober 2016 by die V&A Waterfront in Kaapstad ná die Sasol Solar Challenge 2016 Foto: NWU Solar Car, Facebook

Die Noordwes-Universiteit se sonkar was Saterdag die eerste Suid-Afrikaanse span om die eindstreep in Kaapstad oor te steek in die Sasol Solar Challenge.

Die NWU het algeheel in die vierde posisie geëindig.

“Ons is baie trots daarop dat ons dwarsoor Suid-Afrika met ons sonkar gereis het,” het Jimmy Pressly van die span in ʼn verklaring gesê. “Dit was ʼn uitstekende kompetisie en ʼn groot voorreg om Suid-Afrika te verteenwoordig. Ons beplan om Suid-Afrika se naam hoog te hou wanneer ons in 2017 aan die Bridgestone World Solar Challenge deelneem.”

Elf spanne van verskeie lande het Saterdag by die V&A Waterfront aangekom nadat hulle saam 27 000 km op publieke paaie afgelê het, slegs met behulp van sonkrag.

Die Nederlandse span Nuon het die Challenger-klas gewen ná 4 716 km, en het die vierjarige rekord van 4 630 km verbeter. Nuon het die Japannese span, Tokai, met 172 km gewen.

“Ons is baie opgewonde, ons het al in die verkeer begin fees vier toe ons Kaapstad binnegekom en besef het ons het gewen,” het Sarah Bennink Bolt van die Nuon-span gesê. “Die span werk al jare lank aan die motor, so ons is baie emosioneel.”

Met nuwe reëls wat vir die wêreldwye kompetisie ingestel is, sal al die spanne die Suid-Afrikaanse kompetisie gebruik om splinternuwe modelle vir die 2017 uitdaging in Australië te bou. Dié uitdaging se afstand is korter as die Sasol Solar Challenge.

In Suid-Afrika het vyf spanne teen die strawwe internasionale kompetisie deelgeneem. NWU se Sirius x25 het in die vierde posisie klaargemaak met 3 524 km en die hoërskoolspan Maragon Olympus het die Universiteit van Johannesburg met slegs 40 km geklop. “Dit is ʼn geweldige prestasie vir ons as ʼn skool om die Universiteit van Johannesburg te wen,” het Marinda Jordaan, spanbestuurder van Maragon Olympus, gesê. “Harde werk en deursettingsvermoë het vrug gelewer. Die span se motor, Solar Eagle, sal waarskynlik in ʼn museum uitgestal word ná die Sasol Solar Challenge.

NWU moes hard werk ná ʼn ongeluk net voor die uitdaging begin het. Maar die 28 lede in die span het lang ure gewerk en twee internasionale spanne en vier Suid-Afrikaanse spanne geklop.

Winstone Jordaan, direkteur van die Sasol Solar Challenge, het gesê vanjaar se kompetisie was straf. “Die kaliber van kompetisie by hierdie jaar se uitdaging was inspirerend om dop te hou. Ons het ook ʼn baie veilige kompetisie gehad sonder enige groot voorvalle. Dit is gewoonlik ons grootste trots wanneer meer as 350 persone op publieke paaie moet reis.”

Jordaan het gesê die Sasol Solar Challenge het só positiewe impak op die spanne, en hulle daag alle Suid-Afrikaanse universiteite uit om deel te neem.

Die 2016 Sasol Solar Challenge word gebeur deur Sasol om as inspirasie te dien vir jong Suid-Afrikaners wat die land se toekomstige ingenieurs en wetenskaplikes kan word.

Deelnemers moet die motor ontwerp, bestuur, bou en ry. Die agt dag lange kompetisie het op 24 September by die WNNR in Pretoria begin en Saterdag, 1 Oktober by die V&A Waterfront in Kaapstad geëindig. Die sonkrag-motors moet so ver as wat hul kan slegs met sonkrag aangedryf word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Sonkar "fan" ·

Baie geluk aan al die deelnemers van die Sasol Solar Challenge. Spesiale woord van geluk aan die NWU span wat ten spyte van teëspoed eerste van die SA spanne geeindig het. Ons is baie trots!!

Boerseun ·

Sa kom net 4de uit 11, met 5 sa spanne. Skool wen UJ. Se nie veel van ons univesiteite nie. Wie was ander sa spanne van SA

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.