Sasol vergoed boere vir te duur kunsmis 

Sasol se Secunda-aanleg. Foto: Jóhni Steenkamp

Sasol se Secunda-aanleg. Foto: Jóhni Steenkamp

TLU SA het bekend gemaak dat die hofsaak tussen verskeie boere, wat deur TLU SA bygestaan is, en Sasol oor pryssamespanning in die kunsmismark geskik is.

Die saak volg nadat TLU SA se regspan gedurende Mei 2012 namens verskeie boere ’n dagvaarding op Sasol (Chemical Industries Bpk.) beteken het vir moontlike skade gely wat voortspruit uit die skikking van Sasol met die Mededingingstribunaal op 20 Mei 2009.

Die rolspelers betrokke in die saak het hulle verbind tot ’n vertroulikheidsooreenkoms waarvolgens die finale berekeningsmetode sowel as die onderskeie bedrae wat elke boer as skikkingsbedrag ontvang nie openbaar gemaak sal word nie. TLU SA noem wel dat daar tevredenheid is dat die skikking soos ooreengekom vir die meeste boere aanvaarbaar is.

Die skikking finaliseer sover bekend die grootste verbruikersregsaksie wat tot op hede nog ingevolge die Kompetisiewet 89 van 1998 ingestel is. Intensiewe ondersoeke deur TLU SA se regspan, mnr. Sarel Roux van S Roux Ingelyf, adv. Jan van Zyl, asook die forensiese ouditeur, dr. Philip Theunissen, wat etlike duisende berekeninge insluit, het noodwendig die dagvaarding voorafgegaan. TLU SA, wat die aangeleentheid namens die eisers gekoördineer het, spreek op versoek van die eisers (boere) sy dank uit teenoor al die partye wat hierby betrokke was.

“TLU SA bevestig weereens dat Sasol as ’n belangrike diensverskaffer in die landbou beskou word, asook dat Sasol nie net vir die bydrae tot die landbou bedank word nie, maar ook vir die professionele wyse waarop die saak benader en die skikking bereik is.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.