Sasolburg-huisbrand: Pa en dogter sterf ook

Tshepang (4) is in die brand dood.

Tshepang (4) is in die brand dood.

Die pa en dogter van Sasolburg wat verlede maand ernstige brandwonde opgedoen het tydens ʼn huisbrand, het aan hul beserings beswyk. Die brand wat vermoedelik deur die pa begin is, het ook die lewe van sy ander twee dogters geëis.

Sers. Sellwane Mapamela, woordvoerder van die polisie in die Vrystaat, het gesê die pa is Saterdag dood terwyl die agtjarige meisie Dinsdag aan haar wonde beswyk het. Volgens Mapamela is ʼn geregtelike doodsondersoek geopen aangesien die pa die verdagte in die saak was.

Maroela Media het in Februarie berig oor die huisbrand in Zamdela buite Sasolburg. Die 37-jarige pa is buite die huis op die gras aangetref. Brandbestryders het die brand onder beheer gebring waarna polisiebeamptes die huis binnegegaan het en die liggaam van ʼn vierjarige dogtertjie in die eetkamer gevind het.

Bonolo (8) het Dinsdag aan haar wonde beswyk.

Bonolo (8) het Dinsdag aan haar wonde beswyk.

Die liggaam van ʼn 14-jarige meisie is in ʼn kas in een van die slaapkamers gevind. Die agtjarige meisie is ook in die huis gevind, maar het oorleef. Die drie dogters was vasgebind en hul monde toegestop.

Elsabé Coetzer, ʼn direkteur van Hero Burn Foundation, ʼn nie-winsgewende organisasie wat ondersteuning bied aan en omsien na brandslagoffers, het aan Maroela Media gesê die drie dogtertjies se ma, Dorah Montoe, is gebroke. Montoe was by die werk toe die voorval plaasgevind het. “Hierdie mamma staan alleen in die lewe. Sy het nie ’n huis om na terug te keer nie, sy het nie kinders om te versorg en lief voor te wees nie. Die pa en dogter word albei die naweek begrawe en sy het nie eers klere vir die begrafnis nie.”

Coetzer kan gekontak word by [email protected] of by 079 792 8768.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

CHRISTA ·

Wat gaan met ons samelewing aan? Kinders wat die liewe HERE aan ouers toevertrou het is nie eers veilig nie, want hulle word behandel asof hulle eiendom is. Wanneer dit ons nie meer pas om ouers te wees nie word hulle in puttoilette gegooi, net op ‘n plek gelos of sommer doodgemaak!!! Diere behandel hulle kleintjies beter as dit – hulle verdedig hulle kleintjies met hulle LEWE!!!

Nina ·

Hemel, dis tragies dat onskuldige kinders so moes doodgaan. Sterkte aan die mamma.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.