Sasolburg-paartjie grusaam vermoor

Annie en Michael was smoorverlief. (Foto: Verskaf)

Twee verdagtes is Maandag in hegtenis geneem ná die gru-moorde op Annie Liebenberg (62) en haar lewensmaat Michael Zantow (64) in Sasolburg die afgelope naweek.

Die paartjie, wat verlede jaar herenig is nadat hulle jare gelede kontak verloor het, se liggame is onderskeidelik Sondag en Maandag in twee verskillende huise gevind, nadat besorgde familielede die polisie ontbied het.

Maryke Liebenberg, Annie se dogter, het aan Maroela Media gesê haar suster het haar Sondag daarop gewys dat hulle Vrydag laas van hul ma gehoor het. Maryke het Michael se broer, wat om die draai van haar ma-hulle woon, gevra om daar in te loer.

“Toe Michael se broer nie by die huis kon inkom nie, het hy na die buurman gegaan en oor die heining gespring. Die huis het oopgestaan, maar niemand was daar nie,” het Maryke gesê.

Die polisie is na die toneel ontbied en kon daarin slaag om in die huis te kom.

Volgens brig. Motantsi Makhele, polisiewoordvoerder, is Annie se liggaam dieselfde dag in ʼn buitekamer van hul huis aangetref.

“Haar hande was vasgemaak en sy het verskeie beserings aan haar kop en nek opgedoen. Sy is op die toneel dood verklaar.”

Polisie was op die toneel. (Foto: Verskaf)

ʼn Aantal items is uit die huis geneem en die paar se Volkswagen Jetta was skoonveld. Michael was ook nêrens te vinde nie.

ʼn Soektog is van stapel gestuur om Michael op te spoor en die polisie het eindelik Sondagaand die vermiste motor in Zamdela, ʼn industriële gebied in Sasolburg, opgespoor.

“Toe beamptes die motor van die pad af wou trek, het ʼn skietgeveg tussen die insittendes van die motor en die polisie ontstaan. Die verdagtes het die polisie ontduik en te voet ontsnap,” het Makhele gesê.

Die polisie, onder leiding van konst. Chrissie van der Linde, het Maandag Michael se liggaam by ʼn huis in Lateganstraat aangetref. Die huis is vermoedelik dié van Michael se oorlede ma.

Die presiese oorsaak van albei se dood word nog ondersoek.

Twee verdagtes, tussen 28 en 35 jaar oud, is kort daarna in Zamdela in hegtenis geneem.

Hulle sal na verwagting Woensdag in die Sasolburg-landdroshof verskyn en word aangekla van huisroof en moord.

Vrou het tot die dood baklei

Annie saam met een van haar dogters, Maryke. (Foto: Verskaf)

Volgens Maryke het haar ma tot die bitter einde baklei.

“My ma was nog altyd ʼn fighter en sy het hard baklei teen haar aanvallers. Volgens die polisie dui haar beserings daarop dat sy nie net oorgegee het toe sy aangeval is nie,” het sy gesê.

“My ma was nooit een vir opgee nie en is sedert ons kinderjare al ʼn steunpilaar vir al vier ons kinders. Sy was altyd gewillig om te help en het ʼn ware hart van goud. Sy gaan deur baie mense en ook haar katte, wat soos haar kinders was, gemis word.”

Annie en Michael was glo smoorverlief toe hulle verlede jaar weer met mekaar in verbinding gekom het. Dié twee was laas op hoërskool ʼn “item” en Annie het kort ná hul hereniging na Sasolburg getrek om saam met Michael te wees.

“Ná al die jare het hulle mekaar weer raakgeloop en hulle was so verlief. Dié soort liefde is waarvoor my ma haar lewe lank gewag het.”

Die onderskeie families van Annie én Michael probeer steeds dele van die legkaart bymekaarsit, maar hulle vermoed dat dit ʼn persoonlike aanval op die paartjie was.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Pieter ·

Wat kan ek se. Waar is Mal-ema en sy trawante nou. – “Die is n klomp gemors. Moenie toesluit nie, bring hulle vir ons.”

piet ·

Vergeet van Malema, doen jy iets daadwerkliks soos om ‘n opkoms te reel of ten minste aan ‘n betoging by die hof deel te neem. Help nie net om om ‘n keyboard warrior te wees en kommentaar hier te lewer nie. DOEN!!!

Pieter ·

Ou Piet, dankie vir jou boodskap. Ja ek is by baie optogte betrokke en selfs by sommige hof dae betrokke. (Waar was jy al? As ek mag vra.).

Mariaan ·

Skokkende gebeure! Mens kan amper nie glo wat jy lees nie…wens ek kon reguit se wat ek van hierdie wettelose land dink! So jammer vir hierdie mense

Blomme ·

Verskriklik tragies? Is SA dalk op hierdie stadium die geweldadigste land te wêreld? Kan iemand lig werp hierop?

Kathleen ·

Sjoe dit is verskriklik , nerens meer veilig nie . Sterkte aan die families van albei hierdie slagoffers .

Sêmaarnet ·

Moenie te gou uitlatings maak nie. Hoe het die aanvallers geweet van die ma se huis as hulle nie bekend was aan die paar nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.