Sassa beloof toelaes sal betaal word

Argieffoto

Die Suid-Afrikaanse agentskap vir maatskaplike sekerheid (Sassa) het gesê begunstigdes van maatskaplike toelae kan verwag om hul toelae steeds vanaf 1 April te ontvang ná nog ʼn verlenging van Cash Paymaster Services (CPS) se kontrak deur die konstitusionele hof.

“Al ons stelsels is gereed, ons kan begunstigdes verseker dat hulle hul maatskaplike toelae in April sonder enige onderbrekings sal ontvang. Die toelae se betaling sal 1 April begin of die eerste dag van die maand op ʼn naweek of ʼn openbare vakansiedag val of nie. Die bankbetalings en Sassa-kaartbetalings wat deur kitsbanke en handelaars verkry word, sal op die eerste gemaak word. Betalings by Sassa-kontantbetaalpunte sal 3 April begin,” het Sassa in ʼn verklaring gesê.

Sassa het ʼn dringende aansoek gebring om te versoek dat die agentskap se kontrak met CPS verleng word en aangevoer dat hulle CPS se dienste benodig om die betaling van die toelae te behartig omdat Sassa nie gereed is om die betaling van die toelae oor te neem nie. Die hof het reeds in 2014 die kontrak met CPS as ongeldig verklaar.

Die hof het Sassa geroskam omdat hulle die verlenging versoek het en hoofregter Mogoeng Mogoeng het Sassa gekritiseer omdat die agentskap “aanhou om onwettighede te laat voortgaan” en ʼn bespotting te maak van die hoogste hof in die land.

Die hof het egter geen ander keuse gehad as om die kontrak met CPS te verleng om te verseker dat toelae betaal word nie.

In ʼn aparte saak verlede week het die Noord-Gautengse hooggeregshof opdrag gegee dat CPS meer as R300 miljoen wat die maatskappy in 2014 van Sassa ontvang het, met rente moet terugbetaal.

Regter Moroa Tsoka het gelas dat die betaling wat ontvang is vir die uitbetaling en registrasie van toelae onwettig en irrasioneel was.

Die saak is deur Corruption Watch gebring.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Rooikop ·

Sulke dinge gebeur as daar onbevoegde mense in ministersposte is…………………….hulle kan nie die job doen nie !!!!! Ergste is niks gebeur met hulle nie ……………..

Anthony ·

Ek hoor hulle skuif van die sassa kaarte af na bank rekening toe, is dit waar?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.