Sassa: Betalings vir Augustus ‘sonder uitdagings’

Argieffoto

Die Suid-Afrikaanse agentskap vir maatskaplike sekerheid (Sassa) het Woensdag laat hoor dat daar geen groot uitdagings was betreffende die betaling van Augustus se maatskaplike toelaes vergeleke met Julie se betaling nie.

Sassa het dié bevestiging gegee terwyl hy die parlement se portefeuljekomitee van maatskaplike ontwikkeling toegespreek het oor die vordering ingevolge die instelling van die konstitusionele hof se uitspraak van Maart wat toelaat dat Cash Paymaster Services (CPS) vir nog ses maande maatskaplike toelaes kan versprei aan begunstigdes wat hul toelaes kontant ontvang.

Die agentskap het in Julie fel deurgeloop onder kritiek ná duisende begunstigdes met leë hande moes terugkeer nadat hulle dae lank in rye gestaan en wag het vir hul toelaes.

Die voorlegging Woensdag aan die komitee het ʼn verslag van Sassa se vordering rakende die betalings aan begunstigdes van April tot Augustus ingesluit. Die komitee het gehoor dat Sassa die getal begunstigdes wat deur CPS betaal word van 2 063 163 tot 1 098 669 verminder het.

Sowat 17 miljoen Suid-Afrikaners ontvang maandeliks maatskaplike toelaes, en 2,8 miljoen van dié ontvang hul toelae kontant.

In Augustus is betalings deur die Poskantoor se Postbank-rekeninge betaal. Die Poskantoor sal ook kontantbetalings toets by 18 takke oor die land.

Zoleka Capa, voorsitter van die komitee, het gesê sy is baie beïndruk met die goeie werk wat Sassa tot dusver gedoen het in terme van die konstitusionele hof se uitspraak. Capa het verder gemeen die poskantoor is nie toegerus om so ʼn groot aantal mense te hanteer nie en dat begunstigdes nie onderwerp moet word aan lang toue mense nie.

“Die departement van maatskaplike ontwikkeling moet iets daaromtrent doen,” het Capa gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

wilma ·

Ironies genoeg is hier in Pretoria omtrent geen poskantoor waar die nuwe kaart verkry kan word nie – slegs in plekke soos Mamelodi, Eersterus, Hatfield, Sunnyside en die Hoofposkantoor en dit terwyl die bestaande kaarte slegs geldig is tot einde September 2018. Daar is vroeër berig dat ongeveer 700 addisionele personeellede by die Poskantore aangestel is, nou wonder ek waarvoor aangesien sommige poskantore nog gereeld hul deure sluit tydens werksure. As hulle nie eers papier het om motorlisensies op te druk nie, wonder ek waar gaan die geld vir die uitbetalings vandaan kom.

Amanda ·

Ek weet van ‘n huiswerker wat Sassa betaalings ontvang maar steeds werk as huiswerker. Is dit reg?

wilma ·

Ek is onder korreksie, maar ek dink indien ‘n persoon die ouderdom van 60 bereik het en nog werksaam is as huiswerker, dit afhang van haar inkomste of sy nog SASSA-betaling ook kry al dan nie. Ek weet van persone wat geld uit pensioenfondse kry, maar nog steeds pro-rata SASSA-betaling ook kry. Ek vermoed indien jy ‘n redelike klein maandelikse inkomste as pensioenaris verdien, jy kwalifiseer vir SASSA-betaling.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.