Sassa: Dlamini se lot binnekort bekend

Bathabile Dlamini, voormalige minister van maatskaplike ontwikkeling Foto: Getrude Makhafola/ANA

Slotbetoë sal Maandag gelewer word in die ondersoek na die Suid-Afrikaanse agentskap vir maatskaplike sekerheid (Sassa) se toelaekrisis.

Die ondersoek is in Januarie van stapel gestuur om te bepaal of Bathabile Dlamini, die voormalige minister van maatskaplike ontwikkeling wat nou die minister van vroue is, persoonlik verantwoordbaar gehou moet word vir die regskoste weens die uitgerekte hofsaak wat deur NRO’s aanhangig gemaak is.

Dlamini het in haar getuienis aantygings ontken dat sy pogings om die onwettige kontrak met Cash Paymaster Services (CPS) uit te faseer, gemuilband het. Dit het die konstitusionele hof met geen ander uitweg gelaat as om die kontrak te verleng om sodoende te verseker dat toelaes aan miljoene begunstigdes betaal word nie.

Besonderhede oor die proses om CPS uit te faseer ten einde die poskantoor of enige ander diensverskaffer toe te laat om oor te neem, is ʼn jaar later steeds onduidelik. Die moontlikheid staar ook die staat in die gesig dat hulle meer geld aan CPS sal moet betaal, sou die huidige reëling verder toegelaat word.

Twee van Dlamini se voormalige kollegas, Thokozani Magwaza, voormalige uitvoerende hoof van Sassa, en Zane Dangor, spesiale raadgewer, het aan afgetrede regter Bernard Ngoepe, gesê Dlamini het Sassa na goeddunke bestuur en nooit met hulle beraadslaag nie.

Magwaza het gesê Dlamini het druk uitgeoefen ten gunste van CPS en hom selfs opdrag gegee om “geraamtes in die kas” van die land se banke te vind en hulle sodoende as moontlike diensverskaffers uit die weg te ruim.

Dlamini het aantygings ontken dat sy Sassa verhoed het om die 1 April 2017-spertyd, soos beveel deur die konstitusionele hof om die betaling van toelaes oor te neem, te haal.

Ngoepe sal Maandag die slotbetoë aanhoor en daarna ʼn verslag saamstel vir die hof om te besluit oor Dlamini se lot.

Nomvula Mokonyane, minister van kommunikasie, het verlede week gesê die kabinet het vertroue in die interministeriële komitee wat onverpoos werk om te verseker dat daar geen onderbrekings in die betaling van maatskaplike toelaes is wanneer 1 April aanbreek nie.

Die komitee werk ook aan ʼn plan as die hof die tweede Sassa-aansoek om die CPS-kontrak met ses maande te verleng van die hand sou wys.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

zoom zoom ·

Sy is net soos zuma UNTOUCHABLE. Sy praat en almal tot die hof dans tot sy sê stop.

MJL ·

Sy het maar net die beleid van die ANC uitgevoer soos per Lindiwe Sisulu…….”Ons sal maak soos ons lus kry.”

christa ·

minister van vrou is net ‘n manier om werk te skep. Eerste keer wat ek van so ‘n bosbenaming hoor. Dan kry seker ook miljuisende rande daarvoor

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.