‘Sassa en Sapo moet sê as toelaes bedreig word’

Argieffoto

Die Demokratiese Alliansie het gesê hy is uiters besorg oor mediaberigte Sondag wat laat blyk dat die Suid-Afrikaanse Poskantoor (Sapo) in ʼn ernstige finansiële verknorsing is en moontlik punte gaan moet sluit waar maatskaplike toelaes versprei word.

Bridget Masango, DA-LP, het gesê hulle sal die voorsitter van die parlementêre komitee oor maatskaplike ontwikkeling skriftelik versoek om minister Lindiwe Zulu oor te haal om die situasie te ondersoek en verslag te doen aan die parlement.

“Miljoene Suid-Afrikaners maak staat op die welsynstoelaes om hulself en hul gesinne te ondersteun. Talle begunstigdes in landelike gebiede het boonop nie enige ander manier om toegang tot hul toelaag te bekom as deur dié kontantverspreidingspunte nie,” het Masango gesê.

“As Sapo van voornemens is om van dié punte te sluit, gaan kwesbare begunstigdes in die steek gelaat word. Dit is dus noodsaaklik dat minister Zulu, as minister verantwoordelik vir maatskaplike ontwikkeling by die Suid-Afrikaanse agentskap vir maatskaplike sekerheid (Sassa) en Sapo moet hoor wat die omvang van Sapo se finansiële probleme is en watter impak dit op die verspreiding van welsynstoelae gaan hê.”

Masango het bygevoeg Sassa, Sapo en minister Zulu moet erken as toelaes bedreig word. “As Sapo nóg ʼn mislukte staatsentiteit word en nie meer sy kontraktuele verpligtinge in dié verband kan uitvoer nie, dan moet hulle dringend gebeurlikheidsmaatreëls in plek stel om seker te maak dat nie een begunstigde in die steek gelaat word nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

5 Kommentare

jongste oudste gewildste
jinny jualinda

Hopeloos te veel maak staat op toelae. Ons klein dorpie het omtrent uitgebrei met kleintjies, en almal word deur sassa grootgemaak.

Sarel

Jinny Jualinda wat van Pensioenarisse wat toelaes.kry.

Sarel

Was van die begin bekommerd oor die Poskantoor. Maar berigte soos die kan paniek veroorsaak.

Leon

Mark Barnes het dit gesien kom en toe besluit die Poskantoor kan nie gered word nie. Net soos ESKOM, SAL , TELKOM, PRASA, TFR en die ANC.