Sassa-fiasko: Ondersoek moet besluit of Dlamini moet betaal

Bathabile Dlamini. Foto: Flickr/GovernmentZA

Die konstitusionele hof het Donderdag beveel ʼn ondersoek moet gedoen word om te bepaal of Bathabile Dlamini, minister van maatskaplike ontwikkeling, persoonlik verantwoordelik gehou kan word vir die fiasko oor die uitbetaling van maatskaplike toelaes.

Regter Johan Froneman het gesê ʼn ondersoek sal eers moet bepaal of bewerings dat Dlamini die skuld moet kry vir die Sassa-debakel, wat byna veroorsaak het dat miljoene begunstigdes nie in April vanjaar hul maatskaplike toelae ontvang het nie, waar is en of sy die kostes van die hofaansoek daaroor moet betaal.

Froneman het gesê al die partye wat deel vorm van die saak moet binne 14 dae aan die hof terugrapporteer oor die proses waarop hulle ooreengekom het om die kwessies rondom die minister se rol en haar verantwoordelikhede met betrekking tot die funksionering van die maatskaplike uitbetalings te bepaal. Hy het gesê indien die partye nie oor die proses kan ooreenkom nie, sal die hof oor die proses besluit.

Thokozani Magwaza, uitvoerende hoof van Sassa, en Zane Dangor, die voormalige direkteur-generaal van die departement, het verklarings by die hof ingedien waarin hulle beweer Dlamini het oor die kop van topbeamptes gegaan deur parallelle besluite te neem en kommunikasieprosesse in plek te stel. Magwaza het Dlamini direk vir die toelaagkrisis blameer.

Dlamini het egter in haar verklaring gesê sy het nie iets verkeerd gedoen nie. Volgens Froneman het Dlamini na die uitvoerende komitee se notules tot en met April 2016 verwys om aan te dui watter prosesse in plek gestel is. Sy sê ook in haar verklaring dat sy met Sassa-beamptes en die regeringsdrukkery vergader het oor die druk van begunstigdes se kaarte. Froneman het gesê dit was egter steeds vir Sassa-beamptes duidelik dat gegewe die vordering wat teen April 2016 gemaak is, sou dit nie vir Sassa moontlik wees om die spertyd te haal wanneer hy self die uitbetaling van die toelaes moes oorneem nie.

Die konstitusionele hof het in 2014 beslis die multi-miljard rand kontrak met Cash Paymaster Services (CPS), die maatskappy wat die uitbetaling van maatskaplike toelaes hanteer, is onwettig. Die hof het egter die beslissing tot Maart 2017 opgeskort om die departement en Sassa geleentheid te gee om al die nodige stelsels in plek te kry om self die uitbetaling van toelaes oor te neem.

Toe daar teen Maart steeds nie ʼn nuwe diensverskaffer in plek was nie, was CPS grondwetlik verplig om die 17 miljoen toelaes uit te betaal totdat die funksie deur ʼn ander entiteit oorgeneem kan word.

Menseregtegroepe het die saak na die konstitusionele hof geneem toe dit duidelik word Sassa is nie gereed om die uitbetaling van die toelaes oor te neem nie. Die hof het toe beslis dat CPS se kontrak vir nog 12 maande verleng moet word, om te verhoed dat die betaling van maatskaplike toelae onderbreek word.

Die hof het Dlamini daarna beveel om in ʼn beëdigde verklaring te verduidelik hoekom sy nie persoonlik verantwoordelik gehou moet word vir die Sassa-krisis en die koste van die hofaansoek uit haar eie sak moet betaal nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Gus Dry ·

Nog belastingbetalers geld mors.al word sy skuldig bevind….sy sal mos nou nie betaal nie ….

al ·

Die staatsamptenare sal twee keer dink voordat hul weer laks, lui en nalatig optree wanneer hulself moet opdok.
Maak ñ voorbeeld van haar.

Pieterlewismuts ·

Haai julle,
Dlamini het rerige NIKS verkeerd gedoen nie, maar ander ander kant wil ek weet – het sy dan hoegenaamd IETS gedoen – sinvol of nie?

Haar antwoorde aan Parlementere vrae het my baie skielik laat dink aan n graad tien kind wat op heterdaad betrap is dat sy nie haar huiswerk gedoen het nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.