Sassa: Gesprekke begin van voor af

Argieffoto

Argieffoto

ʼn Taakspan van ministers het besluit gesprekke tussen die Suid-Afrikaanse agentskap vir maatskaplike sekerheid (Sassa) en Cash Paymaster Services (CPS) moet van voor af begin.

Dit is ingesluit in hofdokumente wat Maandag deur Sassa by die konstitusionele hof ingedien is. Die taakspan het Sassa beveel om die nasionale tesourie te versoek om van die normale openbare finansreëls af te wyk ten einde onderhandelings ter elfder ure met CPS te regverdig.

Die versoek sal in opdrag van Bathabile Dlamini, minister van maatskaplike ontwikkeling, ingedien word. Die taakspan bestaan uit Dlamini, Pravin Gordhan, minister van finansies, Jeff Radebe, minister in die presidensie, en die minister van staatsveiligheid, telekommunikasie, binnelandse sake en wetenskap en tegnologie.

Wiseman Magasela, waarnemende hoof van Sassa, voer in die hofdokumente aan Sassa en CPS het vroeër vandeesmaand drie dae lank gesprek gevoer en in beginsel ooreengekom op ʼn nuwe tweejaarkontrak.

Die ministeriële taakspan het egter volgens Magasela besluit die huidige onderhandelings met CPS moet van voor af begin en eers wanneer die tesourie toestemming gee vir ʼn afwyking.

Dlamini en Gordhan verskil oor wie die toelae-betalings moet oorneem ná 31 Maart wanneer die kontrak met CPS verval. Dlamini hou vol CPS is die enigste betroubare opsie en dat Gordhan ʼn uitsondering moet maak en die kontrak moet goedkeur. Die tesourie het egter aangedui hy kan dit nie doen nie.

Hoofregter Mogoeng Mogoeng het Sassa verlede week beveel om hofdokumente in te dien waarin hulle verduidelik hoekom hulle nie gereed is om die toelae-betalings op 1 April oor te neem nie en hoekom hulle so lank gevat het om te erken dat hulle nie gereed is nie.

Sassa het die konstitusionele hof intussen gevra om die openbare beskermer (OB) toe te laat om gesamentlik die voorwaardes, bepaling en instelling van ʼn tussentydse kontrak met CPS te moniteer.

Busisiwe Mkhwebane, die openbare beskermer, is intussen ook Maandag deur die DA versoek om die verhouding tussen Dlamini en CPS te ondersoek.

Die huidige kontrak met CPS is in 2014 onwettig en ongeldig verklaar nadat bevind is die tenderproses was onreëlmatig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Johann ·

Hierdie dinge gaan erg lol mense nie hulle pensioen ontvang nie

Joh. 3:16 ·

Revolusie. Dink net as 17 miljoen opstandig word oor ‘n skielike armoede wat hulle tref… Skielik is baaaaie sonder brood… As die staat revolusie wil aanmoedig, is hierdie hulle beste resep…

o ·

En dan gaan dit familie se verantwoordelikheid word om pensionarisse nog meer by te staan. Dit terwyl die soustrein volstoom voortsnel!!

snoefie ·

teen R25 per kop. netjiese sommetjie ne. ek wonder hoe veel kommissie is betrokke. as sassa/poskantoor self die betalings sou behartig, beteken dit elke penioentrekker sou R25 per maand meer kon kry? of is die R25 per kop net kwaadsteek? doen cps dit uit die liefde van die saak?

John ·

Die regering se konkelaars woeker voort en wil die kontrak met die vorige uitbetaler behou anders sou hulle onmiddellik werk gemaak het van die hof se uitspraak. Dis duidelik dat ons howe, finansies en die banke geminag word. Die howe moet luister vir die regering, Gordan moet waai want hy piets hande in die geldlaai en die staatskapers soek beheer oor SA se geld en reserwebank en dring aan op die vernietiging van die wit privaatsektor en die banke. Nou moet die nuwe OB kamma toesig hou oor alles. Chaos het sy kloue ingeslaan.

Oom Johan Willemse ·

Deur Regstellende Aksie is daar op rassistiese wyse ontsle geraak van hoogsgeskoolde effektiewe werkers wat geweet het wat hulle moet doen en hoogsgekwalifiseerde onbevoegde mense is aangestel wat geen begrip het van werksbeplanning nie. Die betrokke minister en senior amptenare wil die wet nou buig om hul onbevoegdheid te verdoesel. Hulle hoort te bedank of afgedank te word.

Scalla ·

Duidelike bewys dat die minister en trawante nie geskik is vir die poste nie, jaag hulle almal weg.

CWS ·

Ook my en my man se enigste inkomste…hy is ook 8 jr al in rolstoel na beroerte….hoe sleg kan alles nog verder word deur voete te sleep…ek moet se al was daar dalk korupsie was ons geld nooit eendag nie daar…Gee hul krediet daarvoor….sal bly wees as dit kan voortgaan en nuwe kaarte word gestuur sonder gesloer…ek weet!!!!!! Dis Nag met invalide en diep in 70tigs en alleen…..

Ronel ·

Dis die een b-up op die volgende. Ek hoop die gemors word vinnig uitgesorteer.

zoom zoom ·

Gee die job vir die Poskantoor hulle het reeds gese hulle kan dit behartig. Dan us daar geen White money monopoly. Of wat van die Guptas hulle is mos bbb eee

hoe nou ·

Hoekom is daar geen raad van ons edelagbare Julius hoof opsweepper van die EFF tov hoe en wie die toelaes moet betaal.

ha ha ·

Geen woord van die ANC jeugliga of is hulle tande getrek deur Lethuli house se baas. Gee die toelaes oor aan alle drankwinkels en shebeens dan sal almal hulle geld kry of wat van die VBS bank wat onse Nr 1 so mooi gehelo het met ‘n verband

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.