Sassa-hoof se kontrak gekanselleer

Argieffoto

Thokozani Magwaza, uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse agentskap vir maatskaplike sekerheid (Sassa), se kontrak is gekanselleer.

Die departement van maatskaplike ontwikkeling het Maandag in ʼn verklaring gesê minister Bathabile Dlamini en Magwaza het ooreengekom om sy dienste te kanselleer ná ʼn konsultatiewe proses deur die hoof van regsdienste, adv. Nkosinathi Dladla.

“Die departement wil mnr. Magwaza bedank vir die rol wat hy gespeel het as die uitvoerende hof van Sassa en wens hom alles van die beste toe vir sy toekomsplanne.”

Die aankondiging kom net ure ná die voorsitter van die staande komitee oor openbare rekeninge in die parlement (Scopa) die doodsdreigemente teen die uitvoerende hoof van Sassa veroordeel het en dit as “skaamtelose wetteloosheid” beskryf het.

Themba Godi, voorsitter van Scopa, het gesê hy het Sondagaand ʼn lang gesprek met Magwaza gehad oor die beweerde doodsdreigemente en die vordering om die kontrak tussen Sassa en die Suid-Afrikaanse Poskantoor te finaliseer om die bestaande Cash Paymaster Services (CPS)-kontrak te vervang vir die betaling van welsynstoelaes.

“Ons is geskok en kwaad oor die skaamtelose wetteloosheid deur ʼn kriminele bende wat mnr. Magwaza wil intimideer sodat hulle die Sassa/Poskantoor-kontrak in die wiele kan ry en die deur kan oopmaak sodat openbare geld geplunder kan word,” het Godi gesê.

“Die lot van 17 miljoen behoeftige en weerlose Suid-Afrikaners is op die spel. Dit is ʼn aanval en sabotasie van nasionale belang vir die voordeel van ʼn immorele en parasitiese kliek. As Scopa ondersteun ons mnr. Magwaza ten volle en hy moet in hierdie pos vasstaan om die nasionale belang te dien,” het hy bygevoeg. “Dit is skokkend dat minister Dlamini nog nie ʼn woord gesê het of in solidariteit met mnr. Magwaza staan nie, en dit laat hom dus voel of hy alleen is in hierdie ding.”

Godi het Dlamini daarna versoek om “die regering se belang bó persoonlike oorweging te plaas”.

Hy het gesê daar was ʼn georkestreerde veldtog om Magwaza te verwyder, “net soos ons gesien het met die skorsing van twee direkteurs-generaal in die departement van waterwese en sanitasie (Dan Mashitisho) en landbou, bosbou en visserye (Mike Mlengana), onder omstandighede wat dui op ʼn konflik van belange met hul politieke beginsels”.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Nico ·

Sit hom op verlof en ondersoek die bewerings deeglik hierdie is net n scam n persoon wat nonsens aan vang is nie geregtig op n afskeidings pakket nie gebruik daai geld vir behuising

Akademi Buktu ·

Sover ek onthou het hy juis vir Dlamini teengestaan in die leuens wat sy verkondig het. Hy kry dus die trekpas omdat hy nie met haar korrupsie wou saamspeel?

Afrikaanse Knaap ·

Ek sal Dlamini nie vertrou om ‘n skool snoeppie te bestuur nie, wat nog van SASSA.

Lee ·

Gaan hy ook nou weer van daai Kaders word wat so R30 miljoen koebaai handdruk kry ??
ABSURD – ek gee moed op!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.