Sassa-hoof: Toelaes sal op 1 April betaal word

Argieffoto

Argieffoto

Thokozani Magwaza, uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse agentskap vir maatskaplike sekerheid (Sassa), het gesê meer as 18 miljoen begunstigdes sal op 1 April hul maatskaplike toelaes ontvang.

Magwaza het die uitlating gemaak nadat hy en ’n span beamptes die parlementêre portefeuljekomitee oor maatskaplike ontwikkeling ingelig het oor Sassa se suksesse sedert die grondwethof in 2013 beslis het dat die R10 miljard-kontrak met Cash Paymaster Services (CPS) ongeldig is. ʼn Nuwe diensverskaffer moes daarna vinnig aangestel word.

Sassa moes gereeld aan die grondwethof terugvoer gee ná die beslissing en het in 2015 gesê hy sal self die betaling van die toelaes oorneem. Dit het egter toe aan die lig gekom dat Sassa dit nié self voor 1 April sal kan regkry nie. Magwaza het gesê die agentskap het ʼn regspan aangestel om met die grondwethof in gesprek te tree sodat CPS toegelaat word om die toelaes vir nog ʼn jaar te betaal vanaf 1 April. Daar bestaan dus ‘n moontlikheid dat begunstigdes nie hul geld op 1 April gaan ontvang indien die grondwethof besluit om nie CPS se kontrak te verleng nie.

Raphaahle Ramokgopa, Sassa se bestuurder van strategie en sakeaangeleenthede, het gesê die agentskap het verskeie opsies oorweeg. Een van die opsies was om CPS se kontrak te verleng. Die ander opsies was om van Grindrod Bank se dienste gebruik te maak; om van al die banke wat sou instem om by Sassa se vereistes te hou se dienste gebruik te maak; om die banke se dienste te gebruik en dan CPS te gebruik vir die vier miljoen ontvangers wat hulle toelaes in kontant ontvang; om die poskantoor se dienste te gebruik of om ’n nuwe diensverskaffer aan te stel om die kontantuitbetalings te doen en dan die bankrekeninge van die ander begunstigdes te gebruik om hul geld te betaal. Die nasionale tesourie was ten gunste van laasgenoemde.

Die banke het aangedui dat hulle ten minste ses maande nodig het om voor te berei vir dié uitbetalings wat veroorsaak dat dit eers op 1 April kan gebeur. Die opsie om die poskantoor te gebruik is ook van die hand gewys omdat die poskantoor nie takke in die verafgeleë plekke het nie.

Ramokgopa het egter gesê Sassa-begunstigdes is bang dat dit te lank sal neem vir banke om die nodige infrastruktuur gereed te kry en dat hulle nie hul geld op 1 April sal ontvang nie.

Sassa het toe besluit dat dit die beste sal wees om CPS se kontrak te verleng om te verseker dat die begunstigdes hul geld wel op 1 April ontvang.

Ramokgopa het bygevoeg dat indien die grondwethof die verlenging sou toestaan die nasionale tesourie dit as ongeldig sou ag omdat dit as onregmatige besteding gesien sal word omdat die kontrak as onwettig verklaar is. CPS is ʼn filiaal van die Amerikaanse maatskappy Net1 wat op sy beurt al beskuldig is dat hy onregmatig geld afgetrek het van sy begunstigdes se toelaes.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Johann ·

Standaard verklarings en verskonings vir AL die “useless” administrasies. Vee hulle janters af aan die howe; dan hou hulle die howe verandwoordelik dat die hulle.duld aanspreek, dan net nog n biekie tyd om net.die laaste resources te steel, om die volgende tjomma in diens te neem…GEEN GEWETE vir hulle gevolge nie. As dit nie weerlose pasiente is wat letterlik na hul dood gestuur word nie, dan is dit die MILJOENE wat na die ANC se pype dans solank hulle elke maand n geldjie kry? As ons al OOIT in n anargie.was…gaan dit wees wanneer daardie selfde miljoene opruk en brand en breek wanneer hulle NIE hulle geld kry nie. Maar jou ja…so het die Onderwys Departement ook nie onnies betaal wat Desember moes merk nie? In n naiewe oomblik dink ek rerig daars letterlik nie meer geld om te steel nie?

alwyn ·

Iets maak nie sin nie, in 2013 is die kontrak alreeds ongeldig verklaar en in 4 jaar kon SASSA nog nie n alternatiewe metode kry nie. In 2015 verseker hulle dat hulle dit sal reg kry, twee jaar later wil hulle nogsteeds die maatskapy wie se kontrak in 2013 ongeldig verklaar is gebruik.

Wie kry hoeveel om CPS aanhou te gebruik?

Maria Van Dieweeck ·

Hierdie poppie weet hoe om vir die hoogste howe ore aan te sit..so slinks!

Alida ·

Ek verstaan nie mooi nie. Moet die arme ou mense nou hongerly tot April maand? Is die geld gesteel? Ek sal nie verbaas wees nie. Indien wel, eet die stelers lekker skaapboud en aartappels en die ou mense gaan dood van honger.

Jeff ·

Inspekteur GOOGLE wys dat ene Tokyo Sexwale sy vinger in die paai het by CPS, Net1 en Grindrod.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.