Sassa-hoof versoek om banke te ‘ondersoek’

Thokozani Magwaza, voormalige uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse agentskap vir maatskaplike sekerheid (Sassa) (Foto: Getrude Makhafola/ANA)

Bathabile Dlamini, minister van maatskaplike ontwikkeling, wou Suid-Afrikaanse banke diskrediteer sodat hulle nie gekies sou word om welsynstoelaes uit te deel nie, het die voormalige uitvoerende hoof van Sassa Vrydag aan ʼn kommissie van ondersoek gesê.

Dlamini wou hê die onwettige kontrak met Cash Paymaster Services (CPS) moet verleng word.

Thokozani Magwaza, voormalige uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse agentskap vir maatskaplike sekerheid (Sassa), het gesê die minister het hom genader en gesê hy moet iets teen die banke kry sodat dié opsie [om die banke te gebruik] nie sou werk nie.

“Ek het nee gesê. Die minister het ons in CPS se rigting gedryf. Alles wat gedoen is was ʼn poging om by CPS te bly. Dit het aanvanklik begin as ʼn opsie om die kontrak te verleng, en daarna het die geskuif om ʼn hele nuwe CPS-kontrak te bekom.”

Magwaza het aan die kommissie verduidelik wat Dlamini gedoen het om Sassa te belemmer om aan die 1 April 2017-sperdatum te voldoen om die betaling van toelaes oor te neem, soos die konstitusionele hof opdrag gegee het. Magwaza het gesê Dlamini het dit reggekry deur omstrede en duur werkstrome, haar onwilligheid om met die banke saam te werk en om die CPS-kontrak weereens te verleng.

Ishmael Semenya, vir Dlamini, wou egter weet waarom die bewering teen Dlamini oor die banke nie by sy beëdigde verklaring ingesluit is nie en waarom Magwaza se advokaat, Richard Solomons, dit ook nie verlede week in sy kruisverhoor van Dlamini aangeroer het nie.

“Dit is verseker ʼn verdoemende bewering. Dit is ʼn noemenswaardige punt. Jy weet waaroor hierdie sitting handel, reg? Dit is ʼn ondersoek om te bepaal of die minister enige regskoste moet betaal. So dit moet belangrik wees om in jou verklaring te noem, is ek reg?”

Solomons het hierop gesê dit is onregverdig om Magwaza te veroordeel oor aspekte van Dlamini se kruisverhoor wanneer daar ʼn beperking is op dit wat hy Dlamini kon vra.

“Die regter was baie duidelik dat ek ʼn beperkte reg het tot die kruisverhoor en dat ek nie enigiets kon vra buiten dit wat mnr. Magwaza in sy verklaring genoem het nie. Ek het by die verklaring gehou. Ek dink nie mnr. Magwaza kan gekritiseer word vir wat die minister gesê het nie.”

Magwaza het gesê sy verklaring is gebaseer op dit wat Dlamini in haar eie verklaring aan die ondersoek oor hom te sê gehad het, en nie oor dit wat buite haar geskrewe bewyse geval het nie.

Die ondersoek oor Dlamini se rol in die debakel oor welsynstoelaes en of sy aanspreeklik gehou moet word vir regskoste wat aangegaan is, het Maandag by die kantoor van die hoofregter in Midrand hervat. Die voorsitter is afgetrede regter Bernard Ngoepe.

Die regtegroep Black Sash het die departement voor die konstitusionele hof gedaag oor die toelaagkrisis om seker te maak dat meer as 17 miljoen begunstigdes steeds hul toelaes sou ontvang ná Maart 2017. Die hof het in 2014 beslis die CPS-kontrak was ongeldig, maar het ingestem dat dit verleng word om seker te maak die begunstigdes word nie benadeel nie.

Die konstitusionele hof het beslis dat CPS nog 12 maande lank die betalings kan behartig, nadat daar bevind is dat Sassa nie op 1 April 2017 die betalings sou kon oorneem nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Lientjie ·

Sover my kennis strek gaan alles van 1/4/2018 deur die Poskantoor hanteer word.

Alida ·

Die gemors kos ons miljoene. Dank die onbevoegde skelms af ASB. Hulle is almal jacob se aanstellings.

zoom zoom ·

Nou begin die sports. Hoop CR fire die min van sassa saam met zuma.

PJC ·

As daar nou een persoon is wat verdien om gebraai te word is dit hierdie minister met haar meerderwaardige en arrogante houding en die blatante en uitdagende manier waarop sy die howe ignoreer.

Elle ·

Kan hul sommer ondersoek instel waarheen daai randjies verdwyn van Sassa toelae elke maand. As daar net een rand van elkeen van die 17 miljoen begunstigdes onwettig (of onwetend )afgetrek word, beloop dit ‘n reuse bedrag. Ek weet van mense waar daar meer as honderd rand per maand afgetrek word. In ons geval is dit net vyf rand maandeliks maar as jy die aantal begunstigdes in ag neem maak iemand iewers groot profyt.

Nic ·

Ek wil ook weet. daar verdwyn so om en by R30 van my elke maand en niemand kan my ‘n antwoord gee nie!

jas Blanche ·

Vra die VSA om grinrod bank te ondersoek oor die vloei van geld na minister!

Elle ·

My suster en haat man sukkel ook al lankal met die onverklaarbare Sassa aftrekkings. Vele onbeantwoorde oproepe en selfs besoeke aldaar het niks opgelewer nie. Toe vind hul eventueel uit dat daar ‘n begrafnispolis op hul naam uitgeneem is by Sassa (sonder hul medewete of sonder hul handtekening) maar natuurlik het Sassa geweier om verdere detail soos die begunstigdes(s) te verskaf. Die situasie is glo nou intussen(na jare),eweskielik reggestel deur ‘n “baie vriendelike,behulpsame amptenaar”. Wonder maar net…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.