Sassa-kaarte: Diefstal, bedrog in Limpopo

sassa-kaart

Ter illustrasie. Foto: Sassa News/Facebook.

Gerugte van bedrog en diefstal om die toelae van begunstigdes van die Suid-Afrikaanse Agentskap vir Maatskaplike Sekerheid (Sassa) te verkry wil maar net nie gaan lê nie.

Maroela Media het gedurende Desember en Januarie boodskappe van lesers gekry wat gekla het oor diefstal van Sassa-geld.

Volgens Antoinette Malan van Lephalale is haar bejaarde ma se pensioengeld oor die Desembervakansie onttrek sonder dat haar Sassa-kaart uit haar besit was of dat sy haar kaart se PIN-kode uitgegee het.

Nog ʼn leser, Annamarie Olivier, het in Desember na die poskantoor in Bela-Bela gegaan om haar nuwe Sassa-kaart te kry net om uit te vind daar is reeds ʼn kaart in haar naam in Newcastle, KwaZulu-Natal, uitgereik. Al haar geld is toe ook reeds in Piet Retief onttrek.

“Ek is ingelig dat ek die tweede persoon met dieselfde probleem is en het ʼn verklaring afgelê dat ek nog nie my kaart ontvang het nie maar my geld was reeds weg. Ek sit nou vir ʼn maand sonder enige inkomste,” het Olivier gesê.

Olivier het gesê die agentskap was bereid om haar te help met ʼn geskenkbewys van R1 500 maar die aankope kon net by een winkel in ʼn informele nedersetting gedoen word.

“Ek het die geskenkbewys weggewys. Ek kan ongelukkig nie vrou-alleen na die winkel ry wat vir twee dae nie oop was toe ek dit wou besoek nie.”

Intussen sit Olivier steeds sonder enige toelaag tot 1 Februarie en sy weet ook nie of sy haar gesteelde geld sal terugkry nie

Nog ʼn leser, Joy Petzer, het gesê sy is bewus van ʼn maatskappy wat geld aan pensioenarisse leen en dit dan weer van hulle Sassa-kaarte verhaal. Die maatskappy is in die omgewing van Polokwane, Tzaneen en Mokopane bedrywig.

“Ek weet van een persoon wat nie minder nie as 80 kaarte het waarvan hulle aftrekkings maak.”

Petzer het van die voorval bewus geword nadat sy gesien het hoe geld van haar bejaarde ma se kaart verdwyn toe sy tydens die Desembervakansie by hulle kom woon het.

Sy het die voorval by Sassa se kantoor in Polokwane aangemeld maar die personeel daar het haar glo gevra om die saak weer in Januarie verder op te neem.

“Sassa in Limpopo is tans besig om sy bedrogregister by te werk en alle voorvalle te konsolideer wat by ons kliëntediens en bedrogeenheid oor die tydperk gerapporteer is,” het Paseka Letsatsi, woordvoerder van agentskap, gesê.

Volgens Letsatsi sal die bedrogeenheid ʼn saak namens al die begunstigdes wat hierdeur geraak is, open en die sake sal dan ook deur die polisie ondersoek word.

Hy kon egter nie in die stadium bevestig hoeveel sake van bedrog en diefstal tans in die provinsie ondersoek word nie.

“Begunstigdes wat wel onder bedrog of diefstal deurgeloop het, moet ʼn saak by die polisie open.

“In die gevalle waar geld onregmatig van ʼn begunstigde se kaart onttrek word, moet die persoon ʼn beëdigde verklaring aflê waarin hulle verklaar dat hulle nie bewus van enige onttrekking nie. Sassa en die Suid-Afrikaanse Poskantoor sal die saak ondersoek en ʼn verslag aan die begunstigde lewer.”

Letsatsi het gesê Sassa benodig ʼn saaknommer van die SAPD en ʼn verklaring om ʼn ondersoek na bedrog en diefstal van stapel te stuur.

Hy het benadruk dat Sassa-kaarte nie te koop is nie en die onwettige besit van so ʼn kaart ʼn misdryf is.

“Die publiek moenie Sassa-kaarte koop nie en hulle moet ook nie die kaarte gebruik om geld te leen by geldvoorskieters nie. Begunstigdes moet ook nie hulle PIN-kodes aan mense uitdeel nie, dit is onwettig.”

Bedrog met en diefstal van Sassa-kaarte, asook enige onwettige geldlenings, kan by die naaste polisiestasie of by Sassa by 0800 60 10 11 aangemeld word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Ander Annie ·

Skreiende skande. Die ouer garde kry so min en dan is daar die korrupsie. Ag nee wat SASSA, sorteer die korrupsie uit.

Cornelius ·

Vul ń vorm by sassa in dat jou geld in jou rekening in betaal word. Al jou probleme is dan opgelos.

John ·

… So ons praat die heeltyd van ‘ons regering’. Watter grap. Binnekort is Zuma weer die president , want die volk is aardjie na die vaartjie-geskool, gereed en reg vir ellende… want dit is die pad wat die ANC nou volg. Waaroor stem die volk in Mei? Om meer soos pappie te word en te wees… soos sy kanarie te sing… CR is skatryk. Watter ondernemings het hy bedryf? Gee ons asseblief meer inligting… Dalk die sesame-grot met die Kruger-miljoene ontdek?

Sê net ·

Hierdie, “dis nie nou belangrik, kom later houding” , dis waar baie van die land se probleme lê.

wilma ·

Baie van die pensioenarisse beskik nie oor ‘n bankrekening nie en is geheel en al afhanklik van die kaart om hulle voordele te trek.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.