Sassa-krisis: ‘CPS het staat afgepers’

Argieffoto

Argieffoto

Cash Paymaster Services (CPS) het twee keer in die verlede die regering ʼn twee dag-ultimatum gegee om in te stem tot sy eise om te verhoed dat die betaling van toelaes onderbreek word, het die konstitusionele hof Woensdag gehoor.

David Unterhalter SC, wat Freedom Under Law in die hof verteenwoordig, het aan die hof gesê CPS het op 28 Desember aan die Suid-Afrikaanse agentskap vir maatskaplike sekerheid (Sassa) gesê as sy kontrak nie verleng word nie, hy dadelik sal begin om sy stelsels af te breek.

Die maatskappy het gesê hy hoop dat dit nie “groot ontwrigting” sal veroorsaak nie, het Unterhalter gesê. Hy het gesê dit is duidelik as ʼn subtiele dreigement bedoel. Hy het aangevoer die maatskappy was duidelik seker oor sy onderhandelingsmag oor die regering.

“Die tweedag-dreigement in Desember is ʼn duidelike manifestering van sy mag en dit is presies daardie mag wat na ons mening deur hierdie hof gedissiplineer moet word,” het Unterhalter gesê.

FUL, asook Black Sash, het Woensdag in die hof aangevoer daar moet toesig gehou word oor die maatskapliketoelaestelsel, wat in gedrang gebring sal word indien Sassa by CPS moet oorneem wanneer die maatskappy se kontrak die einde van die maand verstryk.

Unterhalter het na ʼn beëdigde verklaring verwys van Net 1, die beheermaatskappy van CPS, waarin gesê word indien Sassa nie instem tot ʼn nuwe kontrak op Net 1 se voorwaardes teen Woensdag nie, die maatskappy nie die einde van die maand toelaes aan die 17 miljoen begunstigdes kan betaal nie. Die maatskappy eis ook dat die administrasiefooi van R16,44 per toelaag tot R22 vermeerder word om in pas te bly met inflasie.

Die Nasionale Tesourie het Dinsdag hierdie verhoging geweier en gesê dit hou geensins verband met die verbruikersprysindeks nie.

Unterhalter het aangevoer die konstitusionele hof is by magte om CPS se kontrak te verleng as ʼn noodmaatreël, aangesien die maatskappy ʼn grondwetlike verpligting aanvaar het toe hy ingestem het om ʼn funksie van die staat te verrig wat die regte van die toelaagbegunstigdes verseker.

Regters het bevraagteken of die hof werklik by magte is om ʼn kontrak te verleng wat slegs tot April geldig is. Die advokaat het geantwoord daar is ruimte om dit te doen. Hy het voorgestel die hof kan ʼn bevel verleng wat die hof in 2013 uitgereik het, waarin die kontrak as ongeldig verklaar is weens tender onreëlmatighede.

ʼn Prokureur van Corruption Watch het dieselfde oplossing aangevoer.

Regter Edwin Cameron het voorgestel dit sal meer gepas wees om CPS tot ʼn verpligte kontrak te verbind om in April voort te gaan met toelaagbetalings vir “oortuigende redes”, eerder as om die hofbevel te verleng.

Bathabile Dlamini, minister van maatskaplike ontwikkeling (Foto: ANA)

Bathabile Dlamini, minister van maatskaplike ontwikkeling (Foto: ANA)

Die dreigende toelaagkrisis het daartoe gelei dat ʼn ministeriële taakspan vandeesmaand op die been gebring is om seker te maak toelaagbegunstigdes sit nie met leë hande nie. Die taakspan het die onderhandelinge op die laaste minuut met CPS tersyde gestel omdat die Nasionale Tesourie nie ʼn afwyking van die reëls op openbare finansies wou goedkeur deur net een bieër toe te laat nie.

Bathabile Dlamini, minister van maatskaplike ontwikkeling, het volgehou CPS is die enigste entiteit wat die toelaaguitbetalings in die nabye toekoms kan hanteer. Kritici het egter gesê Dlamini het die ontvouende krisis geïgnoreer totdat dit te laat was om ʼn alternatief vir CPS te vind.

Intussen het Pravin Gordhan, minister van finansies, Dinsdag gesê ʼn formele aansoek om van die reëls af te wyk, word deur die Nasionale Tesourie oorweeg, indien onderhandelinge met CPS van voor af kan begin. Hy het egter etiese probleme met die maatskappy se optrede uitgewys.

FUL het aangevoer enige toekomstige kontrak moet, in teenstelling met CPS se eise, tot “geen voordeel” van die betrokke maatskappy strek nie, wat sal verhoed dat die maatskappy wins daaruit maak. Daar is ook aangevoer CPS mag nie toegelaat word om wins te maak uit ʼn kontrak wat deur die hof as ongeldig verklaar is nie.

Budlender het ook aangevoer die hof moet toelaagbegunstigdes beskerm teen derdeparty-bemarking vir lenings, begrafnispolisse, lugtyd en elektrisiteit, omdat CPS-filiale voordeel trek uit hierdie verkope. Die deel van toelaagbegunstigdes se persoonlike besonderhede was een van Gordhan se bekommernisse.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

pieter ·

GEE VIR DIE HARLEKYN NOG WYN,MOE SY NIE DEEL GEWEES HET VAN DIE SITTING NIE.

John ·

Nou wil CPS die Grondwethof afpers. Duidelik in die ‘driving seat’ danksy ‘mamma’. Hoop nie een van die regters kry ‘n beroerte nie…

Alta ·

Beteken dit 17 miljoen SASSA afhanklikes moet weer van voor af registreer indien die Poskantoor of ander die kontrak oorneem Eish!!!!!!

Johann ·

Ek vra steeds: wie is die wat voordeel.trek by CPS? En wie en wat en waarom “call” hulle die “shots”?

maria ·

weet nie of iemand gekyk het nie, maar die twee advokate was uitstekend. Pluimpie ook vir Gordan wat vasgebyt het.

Justice ·

Hierdie is presies die “catch 22” situasie wat CPS en Dhlamini beplan het – die Nasionale Tesourie het ook maar bitter laat wakker geskrik en word nou boonop afgepers om `n buitensporige verhoging van R94.5m teen 25.26% tot R374m diensfooi per maand vir die volgende 18 maande met `n nuwe kontrak toe te staan. R6.7 bn oor die volgende 18 maande maak van Dhlamini sonder twyfel CPS se gunsteling minister – of dit verniet vir CPS gekom het is `n ope vraag.

Basjan ·

Justice, ek stem 100% met jou saam. Jy som die situasie uitstekend op.

Christa ·

Wie weet waarom die pensioeuitbetalings by die Poskantoor weggeneem was?

Potlood ·

As hulle van die begin af nie so “GREEDY” was nie, sou hulle nie nou so sukkel nie… Nou gaan die wiel weer moet oor uitgedink word!! En wie gaan daaronder sukkel? Maar nee, sakke lekker vol ka-ching agv van kontrakte wat links en regs uitgedeel word!

Ek se die hele ding moet oor gedoen word! As jy nie kan bewys dat jy ‘n positiewe impak maak, probeer maak of al gemaak het nie (natuurlik is daar mense sonder keuse), dan kry jy NIKS. Dan is daar meer om te gee vir die wat WIL!

PS jy weet mos wie, wie is want betalings word gemaak… So as jy sisteme verander, vat die data en werk daarmee… Hel man, dit word elke dag gedoen in die wereld… Dit wil net weer bevestig dat hulle geen clue het hoe om sisteem integrasies te hanteer nie. Seker ook hoekom elke liewe kantoor in die staat nog op sy eie hardloop (as dit hardloop)…

SARIE VAN HEERDEN ·

Gedurende Zuma se vraetyd vanmiddag in die parlement het iemand genoem dat CPS Zuma se eksvrou Nkosozana se kostes dra om die leierskapverkiesing later die jaar. Ek slaan my hande saam as ek na die parlementslede kyk en wonder hoe dit sou gelyk het in my jongdae as daardie tyd se parlementslede so gesit en kou en water drink het. Tref self jul vergelykings en dan kan jy saam met Zuma oor alles lag en giggel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.