Sassa-krisis: Dlamini ontken sy het sperdatum gemis

Bathabile Dlamini. Foto: Flickr/GovernmentZA

Bathabile Dlamini, minister van maatskaplike ontwikkeling, het Vrydag berigte dat sy die sperdatum gemis het om ʼn beëdigde verklaring oor die debakel rondom die uitbetaling van maatskaplike toelaes by die konstitusionele hof in te dien, ontken.

Die konstitusionele hof het vroeër vandeesmaand ʼn aansoek aangehoor dat die hof ʼn toesigrol moet speel met die uitbetaling van toelaes. Dit kom nadat die departement van maatskaplike ontwikkeling en die Suid-Afrikaanse agentskap vir maatskaplike sekerheid (Sassa) erken het hulle is nie in staat om self die uitbetaling van toelaes vanaf April te hanteer wanneer die huidige diensverskaffer, Cash Paymaster Services (CPS), se kontrak tot ʼn einde kom nie.

Die hof het beveel dat CPS se kontrak vir nog 12 maande verleng moet word om te verhoed dat die betaling van maatskaplike toelae onderbreek word. Die hof het Dlamini ook beveel om in ʼn verklaring te verduidelik hoekom sy nie persoonlik verantwoordelik gehou moet word vir die krisis en die koste van die hofaansoek uit haar eie sak moet betaal nie.

Dlamini moes hierdie verklaring voor Vrydag 16:00 indien. Kort hierna het sommige nuusagentskappe berig Dlamini het die spertyd gemis, maar haar woordvoerder het later ʼn verklaring uitgereik om dié bewering te ontken.

Volgens die verklaring moes die 140-bladsy lange verklaring elektronies aan die konstitusionele hof gestuur geword het en 26 kopieë daarvan moes met die hand by die hof afgelewer word. “Die hof kon nie die kopieë van die verklaring aanvaar sonder dat daar bevestig is dat die elektroniese weergawe ontvang is nie. Ongelukkig, weens die grootte van die lêer, het die elektroniese diens teruggebons en kon al die partye dit nie voor 16:00 ontvang nie. Die elektroniese lêer is nou aan al die partye gestuur,” het die verklaring gelui.

“Die minister het die verklaring ingedien soos deur die hof beveel. Die prokureurs sal Maandag ʼn kondoneringsaansoek by die hof indien.”

Die departement en Sassa het vroeër gesê alles is gereed om die maatskaplike toelaes aan ongeveer 17 miljoen begunstigdes hierdie maand uit te betaal. Omdat 1 April op ʼn Saterdag val, sal die Sassa-betaalpunte egter nie oop wees nie, maar begunstigdes kan steeds hul toelaes by die ander betaalpunte ontvang.

Dlamini het vroeër die maand om verskoning gevra vir die kommer en ongerief wat die onsekerheid rondom die maatskaplike toelaes veroorsaak het. Sy het Suid-Afrikaners en veral toelaagbegunstigdes bedank vir hul geduld en samewerking oor die kwessie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

humor ·

Daar bestaan nie meer so iets soos n 1 April – grap nie dit is gekaap deur n aaklige werklikheid wat deur niks oortref kan word nie.

Jaco Grobler ·

Jy is reg! SA IS die 1 April grap, en die 2e April, 3e April….

John ·

Gaan die uitbetalings sonder probleme geskied of gaan Gordhan en Jonas nog beskuldigings moet verduur dat hulle ‘n oponthoud bewerk het? Enigiets moontlik sal aangegryp word om mense te probeer oortuig van die twee se kamma ‘skuld’.

Scalla ·

Hoekom is sy nie ook afgedank gedurende die patetiese kabinet skommeling nie

Arie ·

Daar is n bevel uitgereiik dat n verslag by die hof ingedien moet word voor 16h00 op Vrydag (30 Maart 2017).
Enige verantwoordelike bestuurder sal dan poog om sodanig verslag ruimskoots genoeg voor 16h00 (ongeveer om 15h00) in te dien om onverwagte probleme en gevolglike vertragings die hoof te kan bied.
Om so n groot verslag op die nippertjie om 16h00 te wil inhandig dui op dieselfde graad van onvolwassenheid wat by n graad 10 skoolkind verwag kan word.
Dit is beslis nie die optrede van n verantwoordelike minister nie. Nou moet daar n kondoneringsversoek Maandag ingedien word. Watter verbetering is dit tog nie.
As daar.van studente verwag word om voor 16h00 op n bepaald dag n universiteitsaak in te handig, dan kan n toegewing miskien gemaak word tot se 16h05 maar daarna is dit onteenseglik LAAT en word strafmaatreels toegepas.

Dink hieroor na en vorm self n opinie ten opsigte van die verwagte kondonerings-versoek.

Huh ·

Maart het 31 dae. Moet asb nie probeer om die aaklige werklikheid in n ongemaklike april gek te maak nie…

Huh ·

Maart het 31 dae. Moet asb nie probeer om die aaklige werklikheid in n ongemaklike april gek te maak nie… Maar nou ja. As feb partykeer 29 dae kan he dan is dit seker maar fine as maart partykeer 30 en ander keer 31 het

ken benoni ·

Oom Jan Spies, het in een van sy talle stories vertel van die koue en die patrè wat laastens die leë bottel weg slinger in die bosse en sê,”:….jou nuttelose kruik”, …maar helaas, die vrou bly met LABEL en al in haar pos aan. Sy moet seker maak nommer 1 en al sy vroue kinders en aanhangsels kry pensioene eendag.

Ronnie ·

Dink julle iemand het al SASSA uitbetalings gekry? Ek jeuk om te weet.

snoefie ·

Maart het wel 31 dae maar haarsoerdatum was vur 30 Maart. sou dit nou n bewys van uittarting wees om so n verslag tereg elfde uur in te handig? was dit ek, was die verslag beslus al een dag nadat die bevel uitgereik was, ingehandig om seker te maak daar kom geen oepsies met datum’s en groot leërs en betogings wat pad versper in nie. laat sy betaal. maak haar betaal. sy het loodreg teen n hofbevel oogetree. daar kan geen verskoning wees nie.

Ramkat ·

Almal in die media bedryf WEET wat beteken SAKTYD.
In hierdie geval het saktyd gekom en gegaan.
Sy was DOODGEWOON te laat en behoort daaroor gekappitel te word deur die hoogste hof, desnoods in ergste terme.
Nou is sy nie meer by daardie Department in gedeel nie, maar die oortreding is nog onder die ou bedeling gepleeg.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.