Sassa-krisis: LP’s eis Dlamini se kop

Bathabile Dlamini. Foto: Flickr/GovernmentZA

Bathabile Dlamini. Foto: Flickr/GovernmentZA

Terwyl LP’s Dinsdag in die parlement toenemend druk op Bathabile Dlamini, minister van maatskaplike ontwikkeling, geplaas het om te bedank na aanleiding van die onsekerheid oor die uitbetaling van maatskaplike toelae, het die minister die blaam voor opposisiepartye se deur gelê.

Liezl van der Merwe, LP van die Inkatha Vryheidsparty, het die debat oor die krisis by die Suid-Afrikaanse agentskap vir maatskaplike sekerheid (Sassa) geopen deur te sê ʼn twyfelagtige kontrak wat gepaard gaan met wanadministrasie, growwe nalatigheid en onbevoegdheid, was die oorsaak van die krisis.

Sy het verwys na die hofuitspraak in 2014, waarin bevind is die kontrak tussen Sassa en Cash Paymaster Services (CPS) is ongeldig en gesê die departement het niks in die afgelope drie jaar gedoen om te verseker die onwettige kontrak word nie verleng nie. “Wat het minister Dlamini gedoen? Niks!”

“Minister Dlamini moet vandag persoonlik en polities verantwoordelikheid neem vir hierdie krisis deur haar pos te ontruim. Indien nie, moet pres. [Jacob] Zuma optree.” Sy het gesê dit is egter onwaarskynlik dat Zuma stappe teen Dlamini sal doen, omdat hulle “beste vriende” is.

Dlamini se spreekbeurt is deur luide toejuiging uit die ANC-banke verwelkom. Die minister het gesê sy wil “die feite regstel” en het begin deur LP’s te verseker daar is geen krisis by Sassa nie. “Ons het nog deurentyd die regte toelaag aan die regte persoon op die regte tyd en plek betaal sedert Sassa tien jaar gelede op die been gebring is. Ons sal voortgaan om dit te doen, sonder uitsondering, van April af en daarna.”

Sy het die verwarring oor die betaling van toelaes op “doemprofete” blameer, in ʼn oënskynlike verwysing na die opposisiepartye.

DA-LP Bridget Masango het gesê die gebeure, sedert die konstitusionele hof die CPS-kontrak ongeldig verklaar het, was ʼn “ongelooflike voorbeeld van roekeloosheid” deur Dlamini en haar beamptes “wat die lewensbestaan van miljoene mense in gevaar stel”.

“Dit is nou so duidelik soos daglig dat sy [Dlamini] alles in haar vermoë gedoen het om nie enige kontrak aan die konstitusionele hof te verskaf nie.” Masango het die minister daarvan beskuldig dat sy persoonlik ingemeng het om te verseker CPS se kontrak word verleng.

EFF-LP Ntombovuyo Mente het gesê ongeag of die toelae vanaf 1 April betaal word of nie, is dit “ʼn beginselsaak” en dat dit ʼn “siek regering” is wat miljoene arm Suid-Afrikaners se lewensbestaan so in gedrang sal bring. Cope het gesê die Sassa-krisis was “vervaardigde ondergang” wat daarop sinspeel dat iemand voordeel trek uit die kontrak met CPS.

Corne Mulder van die VF Plus het gesê Dlamini moet skuldig bevind word aan minagting van die hof, aangesien sy nie aan die hof se opdragte gehoor gegee het nie.

Themba Godi van die African People’s Convention het gesê die krisis was ʼn “goed-georkestreerde komplot” deur mense wat verbonde is aan CPS. Hy het ook die blaam voor Dlamini en Sassa se deur gelê, maar het nie ook ʼn beroep op haar gedoen om te bedank nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

cor ·

Tipies van onbevoegde kader ontplooiing wil graag belangrik lyk , die salaris pakket en byvoordele he maar nie die verantwoordelikheid van die pos vat nie dit is altyd iemand anders se skuld. Dit is net so goed as jy maak vir wolf skaapwagter.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.