Sassa-krisis: Ondersoek begin

Bathabile Dlamini, minister van maatskaplike ontwikkeling, getuig in regter Bernard Ngoepe se ondersoek na haar rol in die sogenaamde Sassa-fiasko (22 Januarie 2018). Foto: ANA

Bathabile Dlamini, minister van maatskaplike ontwikkeling, het Maandag getuig in regter Bernard Ngoepe se ondersoek na die rol van Dlamini in die sogenaamde Sassa-fiasko.

Dlamini het tydens haar getuienis gesê geen van die base by die Suid-Afrikaanse agentskap vir maatskaplike sekerheid (Sassa) het ʼn probleem daarmee gehad om saam met die aangestelde adviesgroepe, wat as “work streams” bekend gestaan het, te werk nie.

“Die adviesgroepe was nooit ʼn probleem vir die bestuur nie, al sedert [die voormalige uitvoerende hoof] Virginia Pietersen,” het Dlamini in isiZulu getuig.

“Ten tyde van die adviesgroepe by Sassa, het ek saam met [Thokazani] Magwaza gewerk toe hy die waarnemende adjunk-direkteur-generaal van die departement was,” het sy gesê.

“Hulle het baie werk gedoen en daarop gewys dat dit nie moontlik was om die werk te voltooi binne die hof se spertyd nie. Hulle wat direk aan my gerapporteer het, het nie beteken dat die werk van die Sassa-bestuur ondermyn word nie.”

Die omstrede “work streams” is aangestel om Sassa te help om ʼn nuwe diensverskaffer te vind om die betaling van maatskaplike toelae oor te neem. Dié adviesgroepe het direk aan Dlamini gerapporteer en het die belastingbetaler volgens berigte R47 miljoen gekos.

Dlamini het gesê weens tydsbeperkings het die aanstelling van die adviesgroepe nie op tender gegaan nie. Sy het gesê om ʼn maatskappy aan te stel sou duur gewees het en daarom is die adviesgroepe aangestel.

Dlamini het die adviesgroepe se kontrakte verlede jaar beëindig nadat die tesourie die departement ingelig het dat die aanstellings onwettig was aangesien Sassa nie betyds by die tesourie toestemming gekry het om af te wyk van die tenderprosesse nie, wat die projek onreëlmatig gemaak het.

Die werk van die adviesgroepe is gesien as parallel aan die werk van die Sassa-beamptes, wat Magwaza teen Dlamini gestel het ná sy aanstelling as Sassa se uitvoerende hoof.

Die konstitusionele hof moes verlede jaar by die maatskaplike toelae-sage ingryp nadat die departement versuim het om ʼn nuwe diensverskaffer aan te stel om Cash Paymaster Services (CPS) te vervang, nadat ʼn hof in 2014 bevind het dat die kontrak met CPS onwettig was.

Die hof moes egter noodgedwonge CPS toelaat om vir nog 12 maande die uitbetaling van die maatskaplike toelae te behartig namate die moontlikheid dat miljoene begunstigdes nie hul toelae gaan ontvang nie al nader gekruip het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Hans ·

So tipies daar is mense wat die werk moet doen maar hulle is onbevoeg om dit te doen, nou moet ander dit vir hulle doen terwyl hul nog n vet salaris ook kry, net n mors van tyd en geld. Die wat dit kan doen is mos almal weggejaag.

Johanna Botha ·

Ek stem sy weet niks van niks en neem geen verantwoordelikheid ….dis of ” its not me” of ” I didn’t know ” en so kom almal weg met alles ! Kry ASB kundige mense !

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.