Sassa: Nog geen goedkeuring vir toelaagooreenkoms

Bathabile Dlamini, minister van maatskaplike ontwikkeling (Foto: ANA)

Bathabile Dlamini, minister van maatskaplike ontwikkeling (Foto: ANA)

Bathabile Dlamini, minister van maatskaplike ontwikkeling, het Dinsdag bely dat sy nog nie die nasionale tesourie se goedkeuring bekom het om ʼn nuwe kontrak met Cash Paymaster Services (CPS) aan te gaan nie.

CPS se kontrak om welsynstoelaes aan begunstigdes van die Suid-Afrikaanse agentskap vir maatskaplike sekerheid (Sassa) te versprei, verstryk aan die einde van die maand. Die huidige kontrak is reeds in 2014 in die konstitusionele hof ongeldig verklaar, as gevolg van ʼn gebrekkige tenderproses.

Dlamini het Dinsdagoggend voor die staande komitee oor openbare rekeninge in die parlement (Scopa) verskyn. Sy het aanvanklik aangedui dat sy nie tyd het om enige vrae te beantwoord nie.

Themba Godi, voorsitter van Scopa, wou weet of haar departement die reëls van openbare finansies gevolg het in die geval wanneer daar afgewyk word van ʼn gewone aanstellingsproses, soos wat sy gedoen het deur slegs CPS as die enigste bieër te behou vir ʼn nuwe kontrak vanaf 1 April.

Dlamini het gesê die besluit behoort aan die rekenkundige beampte van die onderhandelingsdepartement en dat die nasionale tesourie na verwagting met dié besluit sal saamstem. “Ja, ons het die afwyking geprosesseer en die rekenkundige beampte is veronderstel om dit te hanteer en daarna sal die tesourie [met die besluit] saamstem.”

Sy het gesê die nasionale tesourie se goedkeuring hang nie daarvan af of die konstitusionele hof besluit om toestemming te gee om CPS te gebruik nie, aangesien die departement tegnies nie ʼn verlenging van die huidige kontrak versoek nie, maar ʼn nuwe ooreenkoms.

“Hulle [die nasionale tesourie] het gesê indien die konstitusionele hof met die verlenging saamstem maar ons het die kontrak nie verleng nie, dan onderhandel ons ʼn nuwe ooreenkoms.”

Toe Godi haar gedruk het vir ʼn antwoord, het sy gesê haar departement kan nog nie goedkeuring kry nie, aangesien onderhandelinge vir ʼn nuwe kontrak met CPS steeds voortduur. Sy het gesê die tegniese spanne van die departemente kan einde vandeesweek vergader. “Ons het in ons laaste vergadering bepaal dat die tegniese span sal sit en dan sal ons ʼn voorlegging aan die president maak.”

Tim Breuteseth, DA-LP, het haar in die rede geval: “Tesourie het nie die afwykings van die onderhandelingsproses goedgekeur nie. Die minister mislei die parlement.”

Dlamini het reageer: “Ek kan nie namens die tesourie praat nie.”

Sy het weke lank ontken dat haar departement en die nasionale tesourie ʼn dooiepunt bereik het. Die spanningsvolle Scopa-vergadering het egter voortgeduur.

Op die vraag of die nasionale tesourie op hoogte gehou is van die ontwikkeings, het Dlamini gesê haar departement het minister van finansies Pravin Gordhan versoek om twee verteenwoordigers na die onderhandelinge te stuur, “maar ongelukkig het daardie mense nie gekom nie”. “Hulle het nooit die onderhandelingsproses bygewoon nie.”

Godi het gesê hy is besorg dat indien CPS meer as 17 miljoen welsyntoelaes vanaf April moet uitbetaal, dat dit op ʼn wettige manier gedoen moet word. “Is julle in hierdie stadium op dieselfde bladsy? Ons kommer is dat die betalings wettiglik moet geskied.”

Dlamini het daarna Gordhan daarvan beskuldig dat hy een van ses opsies “druk” om die krisis op te los, wat aanbeveel dat handelsbanke en die Poskantoor gebruik word om die betalingsfunksie oor te neem. Sy is egter nie ten gunste van die opsie nie, aangesien albei “onbehoorlik opgetree het op verskillende geleenthede”.

Sy het gesê die Poskantoor het aanstoot gegee toe hulle CPS gekontak het om samewerking te bespreek oor ʼn toekomstige betalingsmodel, terwyl die banke nie vertrou kan word nie, aangesien twee van die banke meer as R1 miljard rente aan die departement skuld.

“Die diensverskaffer het gesê hierdie mense kan nie deur die agterdeur ingebring word nie, want hulle is regering,” het sy gesê.

Breuteseth het daarop gewys dat dit “buitengewoon” is dat ʼn bieër, CPS, toegelaat word om aan die regering voor te skryf of hy met die Poskantoor oor ʼn nuwe betalingsmodel kan praat of nie.

Dlamini het egter gesê nasionale tesourie het gekies om die Poskantoor se misstappe te ignoreer.

“Hulle probeer dit ignoreer wat nou oor die Poskantoor gesê word,” het sy gesê, en bygevoeg dat die departement niks kan doen as die entiteit nie ʼn rol wil speel in die verspreiding van toelaes nie. “Hierdie ding oor die Poskantoor is nou ʼn raaisel. Hulle het voldoende tyd gehad om hul huis in orde te kry en ons kan nie blameer word as hulle nie gereed is nie.”

Die konstitusionele hof het sy uitspraak oor die ongeldigheid van die huidige kontrak met CPS opgeskort en toestemming gegee dat die kontrak sy volle termyn kan uitloop tot 31 Maart, om seker te maak dat begunstigdes nie benadeel word nie. Sassa het onderneem om vanaf April self die betaalstelsel oor te neem, maar het bekend gemaak dat hy nog ʼn paar jaar gaan benodig voordat hy die kapasiteit sal hê om dit te doen.

Op die vraag waarom sy toegelaat het dat April nader voor sy opgetree het, het Dlamini gesê sy het eers aan die einde van verlede jaar van die probleem gehoor en sy het beamptes daarvan beskuldig dat hulle nie hul werk gedoen het nie en haar ingelig het nie.

Dlamini het geweier om te reageer op vrae oor die bepalings van die beplande ooreenkoms met CPS en gesê dit sal te kwader trou wees om dit te doen terwyl die onderhandelinge voortduur. Sy het dit benadruk dat welsynstoelaes wel op 1 April betaal sal word en gesê die mense wat kritiek wil lewer, moet eers wag tot dit gebeur voordat hulle haar verder bevraagteken of vrese opper oor ʼn krisis.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Hendrik ·

hier kom groter gemors as wat die regering sal kan hanteer indien hierdie sassa nie betaal word nie.

Mari ·

Kan sy nie asse grote blief gefire raak nie sy is nie bevoeg vir haar taak nie

John ·

Op die internet is baie stories oor CPS, dinge soos vals aansprake oor ‘n PhD, ondersoeke deur die FBI en leuens rondom ‘n BEE, en amper 80 milj aan ‘n begunstigde wat nou glo in ‘n huis in Bishops Court woon, en dan kom Kebble ook in die storie. Dit wil voorkom of SASSA so vasgedraai is in die geknoopte vislyn dat hulle permanent aan die hoek sal moet vasbyt. Die biljoene se uitrol is te danke aan miljoene arm mense wie se SASSA-plastiek-eendjies elke maand goue Faberge-eiers le… en le… en le…

D ·

Een groot gemors. Nog ‘n bexrogspul en soveel tyd om seker te maak baantjies vir boeties word bevoordeel

GES ·

Ek het ʼn nare gevoel dat alles inmekaar gaan val. Die arme oumense gaan dit maar gedweë aanvaar maar nie die jong klomp wat kindertoelaes ontvang nie. Hulle gaan die strate invaar en die wêreld omkeer. Die resep vir stakings wat alles tot stilstand kan ruk.

Louw ·

Ek wil nie persoonlik raak nie, maar as mens so na haar kyk op TV kan n mens sien sy is nie die skerpste potlood Suid van die Noordpool nie. Aan die anderkant moet ek erken daar is nie baie van haar kolegas wat beter vertoon nie. Die ergste van alles. Die stompste potlood van almal is nogal die leier van die party…!

Basjan ·

1 April 2017: Suid-Afrika brand, en dis nie ‘n April fool’s grap nie!

Jaco Grobler ·

Ek het al met honderde mense van alle volksgroepe in my lewe gewerk, en ‘n groot probleem met die meeste is die vermoeë om te sê “Ek is verkeerd” Die arrogansie en verwaandheid laat my stom. Wat die hart van vol is loop die mond van oor..

Leana ·

Wonder of sy sonder haar salaris sal klaarkom? Dis mos wat sy van hierdie mense verwag!

Bekommerd ·

Verstaan nie die logika nie. Kontrak nie verlenging maar nuwe kontrak. Was daar tenders aangevra of gaan die saak weer hof toe agv onwettige bevoordeling. Lyk na minagting van die wet en dan erken Minister dat staatsinstellings hopeloos is en nie oorweeg word om die uitbetalings te doen nie. Jare niks aan die saak gedoen en nou blameer die Minister almal vir die gemors of is dit alles deel van die strategie dat CPS steeds enigste diensverskaffer bly.

PATTY ·

Wat ek nie kan verstaan nie is dat wanneer ek in my beroep sulke belangrike take ignoreer of miskyk of onwetlik doen word ek sumier afgedank. Kry nie eens ‘n kans om myself te verdedig nie. Word net gevra ‘WAS JY BEWUS VAN DIT OF DAT?’ en daar gaan jy. Hoekom word hierdie mense nie dieselfde behandel nie. Die regering maak tog die wette in die werksplek ook. Dit word raakgesien deur die grondvlak ou en gebruik nou hierdie skuiwergat van EK HET NIE GEWEET NIE OF EK WEET NIE HOE NIE om nie gefire te word nie en intussen gaan korrupsie voort.

Grassie ·

Daardie vrou hou die regering gyselaar. Sy het alle pogings om ‘n oplossing te vind gekelder, want sy wil ten alle koste sorg dat CPS voortgaan om die uitbetalings te doen. Sy gaan kort voor die einde van die maand die regering dreig om CPS aan te stel of hulle gaan spoedig onluste op die lyf loop wat hulle nie sal kan beheer nie en hulle gaan ook al die stemgeregtigdes onder die toelaagtrekkers se steun verloor. Sy het die regering met ‘n knyptang op ‘n baie sensitiewe plek beetgekry en sy sal knyp as hulle nie na haar pype dans nie. En Zoempas is aan haar kant. Dit is ‘n verdo(e)mde land waarin ons woon.
Die enigste logiese verduideliking vir hierdie optrede is dat daar baie dinge is om weg te steek
want daar is miljarde rande op die spel.
18 miljoen begunstigdes? Ek glo nie. Ek glo daar is baie, baie “spook” geldontvangers.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.