Sassa: ‘Ons sal nié weer verlenging vra nie’

Argieffoto

Die Suid-Afrikaanse agentskap vir maatskaplike sekerheid (Sassa) het Woensdag gesê sy plan om teen September heeltemal weg te doen met die dienste van Cash Paymaster Services (CPS) is goed op dreef.

Abraham Mahlangu, waarnemende hoof van Sassa, het aan die parlement se portefeuljekomitee vir sosiale ontwikkeling gesê Sassa is besig om stelselmatig die hoeveelheid begunstigdes wat hul toelae in kontant ontvang te verminder.

Hulle is die enigste begunstigdes wat aanhou om deur CPS, die omstrede maatskappy waarvan die kontrak tot September verleng is terwyl Sassa dié funksie na die poskantoor en kommersiële banke oordra, betaal te word.

Mahlangu het gesê in dié stadium ontvang 1,9 miljoen mense hul toelae in kontant. Dit is minder as die 2,2 miljoen wat dit teen April nog in kontant ontvang het.

Sassa skat dat daar ongeveer 789 000 mense sal wees vir wie daar geen ander metode van betaling behalwe kontant beskikbaar is nie.

Mahlangu het onderneem dat pogings om dié getal te verminder verskerp sal word.

Hy het bygevoeg dat hulle moontlik die hulp van die weermag sal inroep in uiterste gevalle waar daar geen ander uitweg is om toelaes aan begunstigdes in afgeleë gebiede af te lewer nie.

Raphaahle Ramakgopa, Sassa se hoof van strategie, het aan LP’s gesê hulle wil sommer nou reeds die komitee inlig dat hulle nie van plan is om nog ʼn verlenging te versoek nie.

Sy het gesê hulle mik om teen einde Augustus 7,9 miljoen “ou” kaartgebruikers na die nuwe stelsel oor te geskuif het.

Liezl van der Merwe, LP van die Inkatha Vryheidsparty, het gesê CPS moenie doodluiters wegstap in September nie, maar moet aan ʼn parlementere ondersoek word oor hul gedrag tydens die vyf jaar wat dié organisme as die alleenverskaffer vir Sassa werksaam was.

Die konstitusionele hof het in 2014 bevind dat die kontrak wat Sassa met CPS aangegaan het ongeldig was, maar het die bevel ter syde gestel om sodoende nie die uitbetalings te belemmer nie.

Die hof was in April 2017 genoodsaak om Sassa se aansoek om sy kontrak met CPS te verleng, goed te keur aangesien Sassa aangedui het dat hy nie alternatiewe metodes van betaling betyds kon instel nie.

In Februarie vanjaar is die hof weer eens genoop om die kontrak met ses maande te verleng nadat onderhandelings vir ʼn skuif na die poskantoor verskeie hindernisse met Bathabile Dlamini, voormalige minister van sosiale ontwikkeling, teëgekom het.

Daar was verlede maand verdere omstredenheid toe dit aan die lig gekom het dat Grindrod, wat bankdienste aan Sassa verskaf het ingevolge die CPS-kontrak, begin het om R10 van die toelae af te trek vir bankkoste.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

nannie ·

Gaan hulle die mense inlig wat geld by die banke kry om nuwe kaartjies by die poskantoor te gaan haal?

Sê maar net ·

Mense julle maak ‘n groot fout om julle geldjies by die poskantore te gaan kry. Gaan self na die poskantore toe op maand einde en kyk hoe lyk die toue daar. Dit is nag verby. Ons wat pakkies wil afhaal moet dit laat oorstaan tot later wanneer dit stiller is. Doen julself die guns en gaan kyk self. ‘n Seker bank wat nou onlangs in die nuus was is rerig flink om rekeninge oop te maak en het ook nie hoë bank kostes nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.