Sassa ontken gerugte oor betaling van toelaes

Argieffoto

Die Suid-Afrikaanse agentskap vir maatskaplike sekerheid (Sassa) het Maandag vals gerugte rakende dié liggaam se betaling van maatskaplike toelaes in die loop van Januariemaand ʼn nekslag toegedien.

Kgomoco Diseko, ʼn woordvoerder vir Sassa, het gesê gerugte doen die ronde dat Sassa nié in Januarie volgende jaar maatskaplike toelaes sal uitbetaal nie omdat dié organisasie sy kantore oor Desembermaand gaan sluit.

Diseko het gesê dié gerugte is onwaar. Sassa se kantore sal slegs op openbare vakansiedae gesluit wees. Hy het bevestig dat die liggaam “normaalweg” sal voortwerk in Desember.

“Ons moedig ons begunstigdes aan om sulke misdade [die verspreiding van vals inligting] by die polisie aan te meld sodat hierdie mense agter tralies gesit kan word,” het hy gesê.

Toelaes vir Desember word tans uitbetaal en dié uitbetalings sal nog tot op 15 Desember voortduur.

Diegene wat hul toelaes by geakkrediteerde winkels en kitsbanke onttrek, sal dit nog tot op 22 Desember vanjaar kan doen.

“Maatskaplike toelaes sal vanaf Januarie 2018 soos gewoonlik vanaf die eerste dag van elke maand betaal word,” het hy gesê.

Pearl Bhengu, uitvoerende hoof van Sassa, het begunstigdes gewaarsku om waaksaam wees en nié hul kaartbesonderhede, wagwoord of ID-nommers aan enigiemand bekend te maak nie.

Begunstigdes word aangemoedig om hul plaaslike Sassa-kantore by 0800 601 011 te bel vir enige navrae rakende die betalings van toelaes.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Anoniem ·

Sjoe! SASSA se woordvoerder is gou op sy perdjie, en wil die mense wat die “vals gerugte” versprei agter tralies sit. Pleks dat die staatskapers agter tralies gesit word.

Penellope Jones ·

Wat is dit wat hulle wel erken?
Ontken is die motto.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.