Sassa sleep CPS-werknemers hof toe oor ‘inmenging’

Argieffoto

Susan Shabangu, minister van maatskaplike ontwikkeling het Donderdag gesê haar departement doen regstappe teen Cash Paymaster Services- (CPS) werknemers wat inmeng met die migrasie van begunstigdes van die ou CPS-kaart na die nuwe stelsel.

Shabangu het dié uitlatings by ʼn mediakonferensie voor lede van die interministeriële komitee vir omvattende sosiale sekerheid gemaak.

Sy het gesê alhoewel daar vordering gemaak word in terme van die migrasie van begunstigdes van die maatskaplike bylae van die ou CPS-kaart na die nuwe Sassa-kaart (Suid-Afrikaanse agentskap vir maatskaplike sekerheid) wat deur die poskantoor uitgereik word, vind daar inmenging by betaalpunte plaas.

“Daar is ʼn spesifieke vorm wat voltooi moet word waarin jy toestemming gee dat jy op ʼn sekere manier betaal wil word. Hulle [werknemers van CPS] meng in deur die Sassa-begunstigdes aan te moedig om die vorms in te vul en dan vir hulle magtiging te gee om deel te wees van CPS,” het Shabangu gesê.

Volgens haar is daar sake aanhangig gemaak by party van die betaalpunte, maar het hulle ook sommige van die sake by die grondwethof ingedien “om seker te maak ons stel hulle in kennis dat CPS aanhou probeer om terug te gaan en ons begunstigdes na hulle terug te lok”.

Dié migrasie word gedoen ingevolge ʼn bevel deur die grondwethof dat Sassa se kontrak ongeldig was. Sassa is tot Maart gegee om te verseker dat ʼn nuwe elektroniese betalingstelsel deur middel van die poskantoor geïmplementeer word.

Die CPS-kontrak is egter steeds tot September geldig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Alida ·

Dit was n skelmspul van die begin af. Dlamini het nog steeds n vinger in die pie.

marous ·

Elke eier wat in die gesig ontplof word verskoonbaar gemaak met hof toe hardloop …op dieselfde mense wat verguis word se rekening !

Alida ·

Ons nuwe pres hou hom blind en doof en doen NIKS. Maak huis skoon Cyril ASB jy het die mag.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.