Sassa-staking beïnvloed nie betaling van toelaes, sê poskantoor

Sassa-betalingsdag by Embuzini (9 Oktober 2018) Foto verskaf deur die SA Poskantoor

Die Suid-Afrikaanse Poskantoor verseker mense wat Sassa-toelaes ontvang dat die staking deur enkele Sassa-personeellede nie ʼn invloed op vandeesmaand se betaling van Sassa-toelaes het nie. Die staking is op 8 Oktober deur Nehawu aangekondig.

Die Poskantoor sê diegene wat Sassa-toelaes ontvang, moet op die tyd en datum wat aan hulle gegee is, na die betaalpunte gaan om hul toelaes te ontvang. Poskantore landwyd betaal ook Sassa-toelaes uit en werk soos gewoonlik.

“Die Poskantoor se stelsel vir die betaling van Sassa-toelaes werk onafhanklik van Sassa se interne stelsel,” het Bongani Diako, woordvoerder van die Poskantoor, gesê. “Wanneer die betalingslêers na die Poskantoor oorgedra is, betaal poskantoorwerknemers die toelaes uit. Poskantoorwerkers word nie deur die staking geraak nie.”

Diako het bygevoeg die Poskantoor het reeds 86% van die 6,7 miljoen toelaes vir Oktober uitbetaal. Dit is die toelaes vir begunstigdes wat die nuwe goue Sassakaart gebruik – en met dié nuwe kaart is dit moontlik om hulle toelaes te gebruik sonder om enige transaksie- of bankkoste te betaal.

“Begunstigdes wat kies om hul toelaes te onttrek deur diensverskaffers wat nie deur die poskantoor gelys is nie, loop die risiko om aansienlike transaksiegeld te betaal. Die nuwe kaart laat een gratis onttrekking per maand by ʼn poskantoor toe en drie gratis onttrekkings by supermarkte.”

Die poskantoor raai begunstigdes aan om dus slegs by ʼn poskantoor of supermark hul toelae te onttrek. Só kan hulle seker maak hulle gebruik hul toelae ten volle, het Diako gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.