Sassa stuur aanlyn aansoekproses van stapel

(Argieffoto)

Die Suid-Afrikaanse agentskap vir maatskaplike sekerheid (Sassa) het ʼn aanvangsprojek van stapel gestuur vir voornemende toelaagbegunstigdes om hul aansoeke aanlyn af te handel.

Sassa is ʼn nasionale regeringsagentskap wat in 2005 aangestel is om welsynstoelaes namens die departement van maatskaplike ontwikkeling te behartig.

Die agentskap het Maandag in ʼn verklaring gesê die projek word Maandag bekendgestel en sal aansoeke dek vir kinderondersteuning, ouer persone en toelaes vir pleegkinders. Aansoeke vir dié toelaes kan op Sassa se webwerf gevind word.

Sodra Sassa die stelsel hersien het, sal ander toelaes ook op die portaal bygevoeg word.

Die agentskap het gesê die aanlyn stelsel sal verligting bied aan aansoekers, omdat dit die ongerief, om in rye by Sassa se kantoor te staan, uit die weg ruim. Indien persone nie in rye hoef te staan nie, verlaag dit ook die risiko vir oordrag van Covid-19.

Persone kan deur hul rekenaars of selfone die aanlyn portaal besoek. Die omkeertyd is sowat 10 dae indien alle nodige dokumentasie, soos die identiteitsdokumente van die aansoeker en eggenoot en bankbesonderhede verskaf is.

Wysigings aan besonderhede, soos betalingsmetode, bankbesonderhede, adresse en die status van aansoeke kan ook op die aanlyn portaal nagegaan word.

Persone wat van die aanlyn portaal gebruik wil maak, het ʼn e-posadres nodig om in te teken en aan te meld. Persone wat nie ʼn e-posadres het nie, sal via SMS terugvoer ontvang van Sassa.

Die aanvangsprojek sal tot 25 September beskikbaar wees.

Sassa benadruk die belangrikheid daarvan dat alle vereiste dokumentasie deur ʼn kommissaris van ede gesertifiseer moet wees wanneer dit ingedien word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Stof ·

‘n Hele paar van my kudde sal baie dankbaar wees hieroor. Welgedaan.

Pieter ·

My ge-googlery het niks opgelewer nie. Van watter Maandag is hier sprake? As dit die 21ste is, sal die aansoeker net 4 dae hê om alle dokumentasie teen 25 September gereed te kry en in te dien. . Ek is 73, so verskoon asseblief as hierdie bejaarde kop die berig verkeerd interpreteer.

Sarel ·

Die Staat se stelsels werk gewoonlik nie en wat is die waarborg van privaatheid.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.