Sassa-toelae: Dlamini ‘grootste hindernis’ in ooreenkoms met Poskantoor

Argieffoto

Die DA het Vrydag gesê die ooreenkoms tussen die Suid-Afrikaanse Poskantoor (Sapo) en die Suid-Afrikaanse agentskap vir maatskaplike sekerheid (Sassa) rakende die uitbetaling van maatskaplike toelae moet aan die parlement voorgelê word om te verseker dat die ooreenkoms wel in die beste belang van die toelaagbegunstigdes is.

Die ooreenkoms tussen Sapo en Sassa is veronderstel om vandag geteken te word. Bridget Masango, die DA se skadu-minister vir maatskaplike ontwikkeling, het in ʼn verklaring gesê die party het egter al uit vorige ervarings geleer dat Bathabile Dlamini, minister van maatskaplike ontwikkeling, “nie vertrou kan word om in die belang van die mense van Suid-Afrika en die 17 miljoen kwesbare burgers wat van die toelaes afhanklik is op te tree nie”.

Masango meen Dlamini het alles in haar vermoë gedoen om seker te maak dat Sassa se onwettige kontrak met Cash Paymaster Services (CPS) “waarskynlik tot haar eie voordeel” verleng word. “Sy gaan uit haar pad om te verhoed dat SAPO die kontrak oorvat – óf omdat sy die onwettige kontrak met CPS wil voortsit óf omdat sy ʼn nuwe private maatskappy in gedagte het,” het sy gesê.

Volgens Masango is Dlamini een van die grootste hindernisse in die pad van die ooreenkoms tussen Sapo en Sassa. “Selfs die nasionale tesourie het aangedui daar was politieke inmenging in hierdie hele verkrygingsproses. Die minister se inmenging sal ongetwyfeld ʼn invloed hê op SAPO se gereedheid om die betaling van welsynstoelaes oor te neem, en gegewe haar inmenging is dit onwaarskynlik dat SAPO gereed sal wees om dit te doen.”

Masango het gesê die DA sal aan Rosemary Capa, die voorsitter van die portefeuljekomitee oor maatskaplike ontwikkeling, skryf om te versoek dat die Sapo-Sassa-ooreenkoms onmiddellik in die parlement ter tafel gelê word ter wille van deursigtigheid.

Die DA meen dit is belangrik dat die parlement en die publiek die volle omvang van dié transaksie verstaan.

“Pres. Jacob Zuma het Dlamini toegelaat om vir te lank verantwoording vry te spring, selfs al plaas sy die welstand van miljoene Suid-Afrikaners in gedrang. Die DA sal aanhou druk toepas sodat sy verantwoordbaar gehou kan word.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

René Prinsloo ·

Seker een van die swakste onbevoegde minister wat in hierdie belangrike pos aangestel is. Speel met die arm van armste mense se oorlewing. Sy het ‘n “vinger in die CPS-kontrak” dis hoekom sy vasskop. Regtig?

John ·

Glo ‘n suster van die uwe me dr Z en sy byt vas in die hoop dat ousus die troonstoel sal wen dan kan die lekkerte net aanhou… Hoop seker ook die grondwethofregters word vervang met lielielandpelle… Dit se baie oor me Zuma se integriteit as sy nie kleinsus Dlamini waarsku oor swak gedrag en die misbruik van mag nie.

Basjan ·

Diegene wat nog nie die boek “The President’s Keepers” gelees het nie, doen julleself ‘n guns en lees dit. Daar sal vir julle ‘n lig opgaan our die korrupsie wat in ons land aangaan.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.