Sassa verleng betaling van tydelike toelae

(Argieffoto)

Die Suid-Afrikaanse agentskap vir maatskaplike sekerheid (Sassa) het Woensdag aangekondig dat hy die betaling van tydelike ongeskiktheidstoelae asook kindertoelaes tot die einde van die maand verleng.

Sassa het in ʼn verklaring gesê die verlenging van die betaaltydperk is vir toelae wat op 1 Februarie vanjaar verstryk het.

Die betalingstydperk vir toelae vir kinders wat tydens hierdie tydperk 18 jaar oud geword het, is ook verleng.

Die minister van maatskaplike ontwikkeling het besluit om die betaaldatum tot 31 Desember uit te stel in reaksie op die ramptoestand wat dit vir begunstigdes moeilik gemaak het om aansoek te doen vir maatskaplike toelaes.

Sassa sê in ʼn verklaring dit was veral moeilik vir diegene wat mediese assessering benodig het vanweë die beperkte toegang tot gesondheidsfasiliteite.

Begunstigdes van die tydelike ongeskiktheidstoelae word aangemoedig om van 5 Januarie hul naaste Sassa-kantoor te besoek om weer aansoek te doen indien ʼn mediese toestand beteken hulle kan steeds nie werk nie.

Diegene wat kinders versorg is ook versoek weer vir toelae te gaan aansoek doen.

“Begunstigdes moet besef dat dit ʼn nuwe aansoek sal wees, aangesien tydelike toekennings slegs vir ʼn spesifieke tydperk gemaak word,” lui die verklaring.

Sassa het gesê dat begunstigdes van albei toelaes kliniese en mediese rekords moet saamneem om hul aansoeke te staaf.

Briewe wat begunstigdes inlig dat hul toelae binnekort verval is reeds uitgestuur en ʼn beroep is op mense gedoen om so gou moontlik daarop te reageer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

2 Kommentare

jongste oudste gewildste
Pierre

Ek verstaan nie hulle heeltemal. My vriendin wat oor 60 is het ook tydens die vorige maande ‘n ekstra R350 gekry. Nou is dit weg.

Jakes

Die vonke gaan nog spat sodra hierdie toelaag verval. Dan sal die stokperdjie van brandstigting en plundery weer opvlam.