Sassa versuim om hofdokumente in te dien oor toelaagkrisis

Argieffoto

Argieffoto

Die Suid-Afrikaanse agentskap vir maatskaplike sekerheid (Sassa) het versuim om dokumente by die konstitusionele hof in te dien om goedkeuring te bekom vir reëlings om welsynstoelae vanaf April te betaal.

“Niks is ingedien nie,” het ʼn klerk van die hoogste hof Vrydagmiddag bevestig.

Sassa het vroeër aangedui hy sou vandeesweek dokumente indien wat verskeie opsies aandui vir ʼn toelaagbetalingstelsel wat in werking sou tree sodra die hof se verlenging van die huidige kontrak met Cash Payment Services op 31 Maart sou verval.

Die kontrak is in 2013 as onwettig verklaar, maar die uitspraak is opgeskort om nie welsynsbegunstigdes te benadeel nie, totdat Sassa self die toelaagbetalings kon hervat. Die entiteit is egter nog nie gereed om dit te doen nie, en het gevolglik alternatiewe gesoek, waaronder om CPS se kontrak vir ʼn beperkte periode te verleng.

Sassa het nog nie kommentaar gelewer oor sy versuim om die hof te nader nie, maar Bathabile Dlamini, minister van maatskaplike ontwikkeling, het Vrydag ʼn verklaring uitgereik oor die toelaagkrisis. Sy het dit benadruk dat dit haar verantwoordelikheid is om ʼn opsie te kies wat vanaf April in werking sal tree en om te verseker dat die betaling van welsynstoelae onverhinderd sal voortgaan. Sy ontken berigte dat die kwessie tot spanning tussen haar en Pravin Gordhan, minister van finansies, gelei het.

Sy het gesê sy het saamgewerk om ʼn oplossing te beraam en het gevolglik gesamentlike eienaarskap van alle opsies op die tafel.

Maroela Media het vroeër berig Thokozani Magwaza, uitvoerende hoof Sassa, het gesê die agentskap het ʼn regspan aangestel om met die grondwethof in gesprek te tree sodat CPS toegelaat word om die toelaes vir nog ʼn jaar te betaal vanaf 1 April. Daar bestaan dus ʼn moontlikheid dat begunstigdes nie hul geld op 1 April gaan ontvang indien die grondwethof besluit om nie CPS se kontrak te verleng nie.

Raphaahle Ramokgopa, Sassa se bestuurder van strategie en sakeaangeleenthede, het vroeër aangedui die agentskap het verskeie opsies oorweeg. Een van die opsies was om CPS se kontrak te verleng. Die ander opsies was om van Grindrod Bank se dienste gebruik te maak; om van al die banke wat sou instem om by Sassa se vereistes te hou se dienste gebruik te maak; om die banke se dienste te gebruik en dan CPS te gebruik vir die vier miljoen ontvangers wat hulle toelaes in kontant ontvang; om die poskantoor se dienste te gebruik of om ’n nuwe diensverskaffer aan te stel om die kontantuitbetalings te doen en dan die bankrekeninge van die ander begunstigdes te gebruik om hul geld te betaal. Die nasionale tesourie was ten gunste van laasgenoemde.

Die banke het aangedui dat hulle ten minste ses maande nodig het om voor te berei vir dié uitbetalings wat veroorsaak dat dit eers op 1 April kan gebeur. Die opsie om die poskantoor te gebruik is ook van die hand gewys omdat die poskantoor nie takke in die verafgeleë plekke het nie.

Ramokgopa het egter gesê Sassa-begunstigdes is bang dat dit te lank sal neem vir banke om die nodige infrastruktuur gereed te kry en dat hulle nie hul geld op 1 April sal ontvang nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Johann ·

Ek weet nie wat gaan hierdie mense doen nie, maar dit is verseker dat die begunstigdes so ver onder die broodlyn lewe dat dit ‘n absolute ramp vir hulle sal wees, ‘n groot hongersnood teweeg sal bring indien die saak nie betyds herstel word nie

andrea van vuren ·

Nog ‘n komende skandaal soortgelyk aan die Transnet debakel!

Johann ·

Laat my asb toe om net by my rede hierbo by te voeg nl, die regering is nou so pleitende op hul knieë vir ‘n burger oorlog as nog nooit tevore nie

Johann ·

Johann…van nog n Johann: jy kan nie meer reg wees nie. 4 MILJOEN mense moet nie dag en datum betaal word wat die ANC hulle mee in toom hou nie….ons het nog NIKS gesien nie! ANARGIE op sy ergste. En hoekom? Weereens en steeds onbekwame handpoppe wat aangestel word en hulle gatte afvee aan die hoogste gesag in ons land!

Basjan ·

Johann en Johann, julle sien moeilikheid is aan’t kom. Dit lyk egter of die minister min gepla is. As die dag aanbreek wanneer die land in vlamme opgaan, gaan sy net haar skouers optrek, verbaas wees en die “blame game” speel. (Apartheid ens, ens)

Christa ·

En hierdie hopelose lot het 4 jaar gehad om dit uit te sorteer!!! Are they really so hopeless??

Jeanett ·

Vanoggend bel my suster my. “Ek het alweer ‘n sms vanoggend gekry, hulle gaan alweer nie Maart my Sassa geld kry nie” Vorige twee jaar het dit telkemale al gebeur dat hul of niks of minder betaal as wat haar toekom. ‘n Mens kan nou maar pleit jy hardloop net vas teen toe deure…..die agterstallige geld het sy tot vandag nog nie gekry. Waarheen nou?

Christine ·

Daar is soveel pensionarisse wat nie sonder dit kan wees,hul verblyf en kos hang daarvan af

Jordaan ·

Die regering ignoreer weereens net die hof, welwetende hulle het die hefboom van die grootste dreigende onrus wat wag. Iemand kry seker groot geld uit hierdie huidige kontrak en wil nie van die soustrein klim nie

Leeann ·

Die dag wat hulle agterkom daar is geen geld nie, gaan alle winkels, bottels toe, slaghuise en apteke geplunder word, en seker ook afgebrand word. Dan gaan die groot hongersnood begin wat Siener van gepraat het………….

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.