Sassa waarsku begunstigdes teen onwettige leners

Sassa (Foto: ANA)

Die Suid-Afrikaanse agentskap vir maatskaplike sekerheid (Sassa) in Mpumalanga het Dinsdag begunstigdes van welsynstoelaes gewaarsku om nie in die strik te trap van onwettige leners wat voordoen dat hulle saam met Sassa werk nie.

“Sassa se huidige betalingskaart is tot die einde van die jaar op 31 Desember geldig. Begunstigdes moet enigiemand, wat homself as ʼn Sassa-beampte voordoen en betalingskaarte, pinkodes of identiteitsdokumente eis, by die polisie aanmeld,” het Senzeni Ngubeni, streekswoordvoerder van Sassa, gesê.

“Wanneer ʼn begunstigde toestemming aan leners gee en ʼn kontrak onderteken, word dit nie meer as bedrog beskou nie, maar ʼn ooreenkoms tussen die lener en die begunstigde en Sassa sal dan nie die begunstigde teen onwettige aftrekkings kan beskerm nie.”

Die agentskap het bygevoeg dat hy nie enige lenings, lugtyd of elektrisiteitstransaksies aanbied nie.

“Sassa se dienste is alles gratis en word slegs by sy bekende kantore aangebied. Die groen kaart is nie ʼn Sassa-welsynsbetalingskaart nie en dit is nog steeds nie duidelik hoe dit werk nie. Die enigste geldige betalingsmetode vir welsynsbetalings is ʼn kaart waarop Sassa se handelsmerk gedruk is en slegs in Sassa se kantoor uitgedeel word.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.