Sassa waarsku teen Facebook-slenter

Argieffoto

Die Suid-Afrikaanse agentskap vir maatskaplike sekerheid (Sassa) het Woensdag die publiek gewaarsku teen ʼn man wat Sassa-kaarte op Facebook verkoop.

“Hierdie gesteelde kaarte is onmiddellik gedeaktiveer en is waardeloos, so die publiek word gewaarsku om nie in die strik te trap om dit te koop nie, aangesien die kaarte nutteloos is. Geen toelae kan met gesteelde kaarte getrek word nie en enigiemand wat met ʼn gesteelde Sassa-kaart in sy besit betrap word, kan van die besit van gesteelde goedere aangekla word,” sê Abraham Mahlangu, waarnemende uitvoerende hoof van Sassa.

Mahlangu het begunstigdes herinner dat Sassa se dienste gratis is. Begunstigdes word ook gemaan om nie hul ID-nommers, PIN-nommers of Sassa-kaartnommers met vreemdelinge te deel nie aangesien hierdie inligting gebruik word om Sassa-begunstigdes te bedrieg.

“Die verkoop van Sassa-kaarte is onwettig. Begunstigdes word versoek om sulke gevalle by die polisie aan te meld of Sassa in kennis te stel. Sassa-beamptes sal nooit geld vra om ʼn Sassa-kaart uit te reik nie,” sê Mahlangu.

Paseka Letsatsi, woordvoerder van Sassa, sê lede van die publiek wat maatskaplike toelae ontvang, moet deurlopend paraat en op die uitkyk wees vir bedrieërs wat onskuldige en weerlose mense teiken.

Begunstigdes word aangemoedig om Sassa op 0800 601 011 te skakel indien hulle ooit gevra word om te betaal vir ʼn diens wat met maatskaplike toelae verband hou, ongeag hoe klein dié betaling mag wees. “Sassa is nie betrokke by enige sake behalwe die betaling van maatskaplike toelae nie,” sê Letsatsi.

Hy sê die Suid-Afrikaanse Poskantoor werk tans saam met die polisie om leidrade op te volg wat tot die inhegtenisneming van die baasbrein agter die Facebook-slenter kan lei.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.