SAUK-4 mag ondanks hofbevel nog nie terug werk toe

Foeta Krige, Suna Venter, Jacques Steenkamp en Krivani Pillay Dinsdag (26 Julie 2016) in die arbeidshof in Johannesburg. Foto: Facebook

Foeta Krige, Suna Venter, Jacques Steenkamp en Krivani Pillay Dinsdag (26 Julie 2016) in die arbeidshof in Johannesburg. Foto: Facebook

Die vier joernaliste wat deur die SAUK afgedank is en wie se afdanking Dinsdag deur die arbeidshof in Johannesburg opgehef is, kan nog nie terugkeer werk toe nie.

Dit kom nadat die SAUK te kenne gegee het dat hy teen die arbeidshof se uitspraak wil appelleer. Die openbare uitsaaier het in ʼn brief aan die vakbond Solidariteit se regsverteenwoordigers gesê die joernaliste mag om dié rede nie terugkeer werk toe nie hangende die uitkoms van die appèl.

Dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, het intussen gesê die vakbond is teleurgesteld in die SAUK se volgehoue pogings om hul “onwettige aksies” voort te sit. “Hulle wys ʼn gebrek aan morele integriteit.” Volgens Herman sal die vakbond vandag met verdere regsaksies begin om die vier joernaliste terug te kry by die werk.

Die arbeidshof het die SAUK Dinsdag beveel om die joernaliste toe te laat om met onmiddellike inwerkingtreding terug te keer werk toe en hul take en verantwoordelikhede normaalweg te hervat. Die uitsaaier word ook verbied om enige verdere dissiplinêre stappe teen die vier joernaliste in te stel.

Die hof het verder die SAUK se algemene bestuurder van radio en aktuele sake en die waarnemende uitvoerende hoof vir nuus en aktuele sake vyf dae gegee om hofstukke in te dien waarin hulle redes uiteensit hoekom hulle nie in hul persoonlike hoedanigheid vir die joernaliste se regskoste, in geheel of gedeeltelik, aanspreeklik gehou moet word nie.

Solidariteit het verlede week die arbeidshof genader om Foeta Krige, Suna Venter, Krivani Pillay en Jacques Steenkamp se afdankings ter syde te laat stel. Hulle is deel van agt joernaliste wat onlangs deur die uitsaaier afgedank is en wie se afdankings glo met die SAUK se omstrede verbod op die uitsaai van gewelddadige betogings verband hou.

Hoewel die ander vier joernaliste, Busisiwe Ntuli, Lukhanyo Calata, Vuyo Mvoko en Thandeka Gqubule, deur hul eie vakbonde en regspanne verteenwoordig word, sal die uitspraak vermoedelik ook hul afdankings beïnvloed.

Die vier verslaggewers van die SAUK in wie se guns die Johannesburgse arbeidshof Dinsdag beslis het, het gesê hulle sien uit om weer terug te keer werk toe by die openbare uitsaaier.

Krige, Venter, Steenkamp en Pillay het mekaar omhels ná die hof se uitspraak.

Maroela Media het vroeër berig die arbeidshof het die SAUK Dinsdag beveel om die vier joernaliste se afdankings op te hef. “Dit is groot vir ons. Baie dankie vir almal en diegene binne en buite die SAUK. Ons kan nie weg om terug te keer werk toe nie,” het Pillay tydens ʼn mediakonferensie, wat deur die vakbond gereël is, gesê.

Krige het gesê die laaste keer wat hy by die werk was, by die SAUK in Aucklandpark, het die voormalige waarnemende uitvoerende hoof, Jimi Matthews, vir hom gesê “dit is koud buite die SAUK”. “Jimi was verkeerd. Ons het ongelooflike ondersteuning van almal gekry – binne en buite die SAUK. Ons is dankbaar vir die ondersteuning en ons families,” het hy gesê.

Lees alle vorige berigte oor die SAUK8 op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

29 Kommentare

Columbiana ·

Solidariteit slaan vir Hlaudi & kie waar dit saak maak. Hulle persoonlike sakke.
Ek probeer die regte ding doen en betaal my TV lisensie maar dis nou tyd om SABC te boikot. #NONEWSNOTVLICENCEPAYMENTS

Piet ·

Ek kyk al die afgelope 10 jaar nie meer SAUK uitsendings nie en voel net so sterk teen die betaal van tv lisensies. #GATVOL

Rina Pretorius ·

raak ontslae van daai Hlaudi, die probleem le by hom by niemand anders nie, hy dink hy is baas maar eintlik is hy klaas, hy is n baie swak bestuurder dink ek. Laat hy verantwoordelik gehou word vir al die onkostes in sy eie hoedanigheid

Bach ·

Wat is lagwekkend? Jy kan bly wees die stelsel werk nog so goed.

Lida ·

Karooklong, waarvan praat jy? Daar is NIKS verkeerd met ons regstelsel nie. Die Arbeidshof se uitspraak was briljant!!!! Bestudeer dit sodat jy op hooogte kan kom.

KarooKlong ·

Wat beteken ‘n hofuitspraak soos in hierdie geval. Die hof se hulle moet teruggaan werk toe en die sauk besluit nee ons gaan teenstrydig met die bevel ‘n ander roete volg omdat hierdie bevel ons nie pas nie. Ek veralgemeen nou so effens maar dit is waarop ek sinspeel. Die hof kan maar beveel wat hy wil, sekere mense is verhewe bo hierdie regstelsel.
Moet ook nou nie teenstrydig met julle vorige kommentaar hier gil nie.

Jan maak n Plan ·

Weereems dink party instansies hulle is hoer as diehof. Maar wat ek die meeste van hou is dat die hof nou n paar indiviue persoonlik aanspreeklik hou vir kostes. Ek “like” dit kwaai baie.

Keelvol ·

Hoera vir Solidariteit se oorwinning en TONG-UITSTEEK PE-WE vir SABC! Hierdie land is nog lank nie Zimbabwe nie-‘n hele paar grootbekke gaan nog bloedneus kry!

Lida ·

HOERA SOLIDARITEIT !!! HOU NET AAN OM HULLE FOUTE UIT TE WYS.

Maria van Dieweeck ·

‘Cloudy with a chance of?’ Ek dink nie die antwoord is ‘meatballs’ nie

Johan ·

Ai kan niemand dan sien die Hlaudi knaap werk SO hard aan sy goue handdruk………hoe meer omstrede jy is hoe groter die pakket!!

Barbaar ·

Die pupet management is soos vinkel en koljander en een is so stupid soos die ander .

Koos1 ·

Ek wil die SABC se regsverteenwoordiger word. Blykbaar het jy geen regskennis nodig vir die werk nie, vandaar hulle apel aansoek!!!!!

Columbiana ·

‘n Wonderlike uitspraak sal natuurlik wees as die hof die SABC prokureurs ook aanspreeklik hou vir kostes van die appel saak saam met hul wayward klient.

lynette ·

Kan die man nie net onmiddellik gearresteer word nie? Hy verontagsaam mos in direkte hofbevel?

Weet 'n bietjie ·

Nee hulle mag appel aanteken en om dit te doen beteken nie hulle verontagsaam die bevel nie. Bevel word op hou gesit deur appel aansoek. Maar daar is dalk regte prokureurs hier wat beter kan verduidelik

Pieter ·

“Hulle wys ‘n gebrek aan morele integriteit”

Dit is net een van die tekortkominge wat oor die algemeen bestaan. Die lys is baie lank… En so word hulle tekortkominge af gedwing op ander… Voorbeeldig… Ons gaan nie so vorentoe nie… Hulle mors ons geld ook…

Anti DA ·

Ek dink die probleem sal weggaan na die verkiesing en ek glo nog die ANC gebruik dit om die media besig te hou en weg van die werklike probleme……maar voor ek nou weer gestenig word deur my mede volk dit is my opinie

Theo ·

Anti Da. Jy is geregtig op jou opinie soos almal. Wie is die mede Volksgenote waarvan jy praat wat jou dalk sal stenig? Tensy jy dit altyd verwag? Nee wat moenie bekommerd wees, se jou se, en gun ander dieselfde. Saam sal ons dit maak, al veskil ons so nou en dan.

pieter ·

KAROOKLONG VRA DIE MENSE WAT JOU AANVAT WAT HET ONS REGSTELSEL TEEN ZUMA ,FRANSMAN,PRETORIUS LAS MAAR AAN GEDOEN.DIE REG VAN DIE LAND WORD BEHEER DEUR DIE ANC MENSE WORD WAKKER.

Johannes ·

pieter, presies! Ek wil ook graag weet. Die regstelsel in SA is vinnig besig om ‘n grap te word.

Dit help net mooi niks die hof beveel maar niks word uitgevoer nie…

Ouma mix ·

Dai man wat dink hys die baas dink ook hys verhewe bokant die wet ma hy gaan sy ali sien ek hoop en glo so

Albert Marais ·

Ek hoop hulle stuur weer die hulpelose verdedigings span vir hul appelsaak. Hul advokaat sit daar met sy croxley blaadtjie in die arbeidshof en probeer sy saak stel aan n ervare regter – rerig?? Onvoorbereid soos kan wees en vermors die pupliek se geld

Piet ·

Pieter mens moet aan jou toegee dat daar invloed is op die regsbank deur die ANC. Mens noem dit sommer BEE aanstellings. Vir die eerste keer in die land se geskiedenis kry mens byvoorbeeld dat n landros slaap wanneer sy n saak aanhoor. Ons het meer onlangs n geval gesien van n regter wat nie Latyn verstaan nie. Laat ons nou nie name noem nie. In hierdie geval werk die regsbank egter tot dusver. Kom ons hou duime vas dit hou so aan!

Janalleman ·

So spesiaal dat dié kommentaar oor regspanne, werkenmers, ensovoorts gaan… mis ons die feit dat Vader Jacob Zuma die toutjies trek aan die ander kant? Stem dat die ding gaan oorwaai na die verkiesing.

Kan jy glo.. ·

Daai bloedbelope oë, spreek van ongelooflike intelegensie, integriteit
Oops, ek het pas wakkergeskrik uit ń nagmerrie…

Knoffelkop ·

Wonder maar net…indien die SAUK se appel suksesvol sou wees…wat dit sal beteken vir ander groot maatskappye waar daar personeel verminderings beoog word..?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.