SAUK: Afleggingsproses verleng

(Argieffoto)

Die raad van die SAUK het Dinsdag ʼn kennisgewing aan al sy werknemers uitgereik dat die afleggingsproses tot einde Desember verleng gaan word om bykomende oorlegpleging te fasiliteer.

Volgens die openbare uitsaaier sal die SAUK-bestuur en sy werknemers in die onderskeie afdelings gedurende hierdie tyd saam met alle deelnemende partye die voorgestelde strukture hersien met die doel om te verseker dat dit ʼn gunstige uitkoms bied en die SAUK in staat sal stel om sy openbare mandaat te bereik.

“Hierdie tyd sal ook gebruik word vir bemiddelingsessies met ’n onafhanklike arbeidskenner oor alternatiewe opsies om die impak van die afleggings tot die minimum te beperk. Die uitgereikte afleggingsbriewe sal ook met dieselfde tydperk verleng word. Kennis moet daarvan geneem word dat die artikel 189-proses nie gestaak is nie,” lui ʼn verklaring van die raad.

Werknemers wat aansoek wil doen om ’n vrywillige skeidingspakket of vervroegde aftrede, word aangemoedig om dit gedurende hierdie tydperk te doen. Alle werknemers en belanghebbendes word ook aangemoedig om hierdie tyd te gebruik om sinvol met die SAUK in gesprek te tree.

“Ons is deeglik bewus van die verhoogde vlakke van onsekerheid en angs wat almal ondervind. Om hierdie rede moedig die SAUK alle werknemers aan om van ons Welstandsafdeling gebruik te maak om professionele en persoonlike berading te ontvang.”

“Ons sal poog om alle werknemers daagliks op hoogte te hou van die vordering met die proses.”

Werknemers van die SAUK het verlede week in verskeie dele van die land protesoptredes gehou oor die SAUK se besluit om met afleggings voort te gaan. Die SAUK het vroeër aangekondig dat 400 van sy werkers afgelê moet word. Dit sluit diegene by sy nuuskantoor in. Daar is in hierdie stadium 170 vakante poste waarvoor werkers kan aansoek doen, wat die getal geraakte poste tot 230 verminder.

In ʼn poging om sy salarisrekening te verminder, het die SAUK ook verskeie voorstelle gemaak. Dit sluit in: salarisverminderings, die skrap van ʼn salarisverhoging vroeër vanjaar en die vries van jaarlikse salarisverhogings.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Racheltjie Debeer ·

Stem 100% saam, sny die bestuur en direksie se salarisse met 75%, sodat dit in lyn kan wees met die ander werknemers sin, dan sal hulle nie nodig hê om mense af te lê nie.

marius ·

Hulle kan net sowel die see probeer leeg skep met ‘n tee siffie .

Wondermaarnet ·

Ek was afgelê en ek kon nie toi toi nie en moes dit maar vat. Alles het ten goede uitgewerk as ek terugkyk, want ek werk vir ‘n fantastiese baas en onder goeie en lekker omstandighede. Dit is so lekker om elke oggend op te staan en te gaan werk.

Hennie J ·

So ploeter hulle voort. In die land van die blindes is eenoog koning.Dit is mos baie makliker om net 400+ mense weg te jag as om die fat cat kaders van nader te beskou en om te bespaar waar dit saak maak, m.a.w by diegene wat geen wesenlike bydrae tot die organisasie lewer nie.

Anoniem ·

SAUK is nou van plan om van goeie mense ontslae te raak en van die :scrap: wat ou Hlaudi Motsaheng(Spelling) aangestel het te behou. NOU RAAK DIT TYD DAT ONS ONS EIE RADIODIENS MOET BEGIN!!!!

Dries ·

Maak eerder werk daarvan om lisensie geld in te samel van al 15 miljoen Uzalo kykers. Maar nee, hulle maak eerder jag op mense wat glad nie eers meer SABC kyk nie. As hulle invordering meer effektief (en regverdig ) was, sou julle nie hoef te spartel in die skuld en mense af te dank nie.

Nico ·

Kyk net wat is die salarisse van die senior personeel, daar is van hulle wat meer verdien as die president. SAUK moet die salaris pakkete verminder dan sal dit beter gaan met die SAUk hulle moet ook gaan kyk in townships hoeveel skottels daar is en hoeveel betaal vir ‘n TV lisensie.

Tienie ·

Jaaaaa wel.

So het baie van “ons” dieselfde deurgemaak na 27 April 1994.

Wat sê die spreekwoord?

Elke hond kry sy dag…..

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.