SAUK-argiewe vir ‘weggooipryse’ aan ANN7 gegee

Rajesh Sundaram verskyn voor die Zondo-kommissie van ondersoek. (Foto: Dimpho Maja/ANA)

Die oudhoof van die Gupta-beheerde Oakbay Investments, Nazeem Howa, het gespog oor die “lekker ooreenkoms” met die SAUK wat die nuuskanaal ANN7 vir ʼn appel en ʼn ei toegang gegee het tot argiefmateriaal ter waarde van miljoene rande, het die kommissie wat staatskaping ondersoek Dinsdag gehoor.

Die redakteur van die destydse ANN7-nuuskanaal, Rajesh Sundaram, het vir ʼn tweede dag voor die Zondo-kommissie van ondersoek oor sy ervaring by die Guptas se televisiekanaal getuig.

Sundaram het in 2013 in Suid-Afrika aangekom om ANN7, met sy hoofkantoor in Midrand in Gauteng, aan die gang te kry. Die meeste van sy getuienis is gegrond op inligting wat vervat is in sy boek getiteld Indentured: Behind the Scenes at Gupta TV, wat verlede jaar gepubliseer is.

Howa was een van die top- uitvoerende hoofde in die Guptas se uitgebreide sakeryk. Sundaram het getuig hy het die eerste keer deur ʼn Gupta-sakevennoot, Laxmi Goel, van die ooreenkoms te hore gekom. Sundaram was toe nog in Indië. Goel het gesê Sundaram hoef nie oor uitsaaimateriaal bekommerd te wees nie, omdat een van die Gupta-broers en Howa ʼn ooreenkoms beding het om geskiedkundige argiefmateriaal teen “weggooipryse” te bekom. Sundaram het getuig Howa het hom later van dieselfde ding verseker.

“Hy [Howa] het die ooreenkoms as spotgoedkoop beskryf en dat ‘iemand onnosel’ by die SAUK daartoe ingestem het. Die Guptas het ʼn beroepsargivaris van Indië aangestel om die SAUK-argief na ʼn digitale formaat om te skakel. Die Indiese argivaris moes minstens ʼn maand lank by die SAUK in Auckland Park wees en agt uur lange beeldmateriaal opneem.

“Hy sou die materiaal oor ʼn naweek na ʼn digitale formaat omskakel sodat dit uitgesaai kan word. Dit was ʼn verrassing … ʼn uitsaaier wat ʼn groot voorraad van sy lewensbloed sommer net so aan ʼn mededinger gee? Ek sou miljoene rande daarvoor gevra het, want daardie argiewe was goud werd. Hoe ouer die argiewe, hoe duurder word dit. Argiefmateriaal van Nelson Mandela in die 1970’s is baie duurder in vergelyking met dié van Julius Malema wat gister vervaardig is.”

Sundaram het getuig die ooreenkoms was dat ANN7 moes betaal elke keer dat hy argiefmateriaal van die SAUK gebruik het, maar nie een van die uitsaaiers het rekord hiervan gehou nie. Die Guptas het in groot maat betaal vir minstens 100 minute van die gesogte argiefmateriaal. Hy het gesê amptenare by die SAUK het geweet oudpres. Jacob Zuma het ʼn noue verhouding met die Guptas en het saamgewerk.

“Hulle het gesê dit was nie eens nodig om omkoopgeld te betaal nie. Hulle [die Guptas] het mense uitgeneem vir ete. Mense by die SAUK het geweet die Guptas en die [oud-]president is na aan mekaar.”

Ná die publikasie van Sundaram se boek verlede jaar het die destydse SAUK-raad in Maart 2018 beloof om die ANN7-ooreenkoms te ondersoek. Dit is nog nie duidelik wat van dié ondersoek geword het nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Anja van der Merwe ·

Dagsê Gerda

Dankie vir jou boodskap.
As jy iets spotgoedkoop van die hand sit, dan word dit inderdaad “vir ’n appel en ’n ei verkoop”. Die “ei” in hierdie geval is ‘n verkorte vorm van “eier”.

Groetnis
Anja
nms Maroela Media

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.