SAUK-base bang om hul werk te verloor, sê DA

Skermskoot uit die advertensie

Skermskoot uit die advertensie

Helen Zille, leier van die Demokratiese Alliansie, het Saterdag gesê die SAUK-base beskerm hul eie posisies toe hulle ʼn besluit geneem het om nie ʼn advertensie van die party uit te saai nie.

“Hulle is vreesbevange om hul werk te verloor, aangesien hy [pres. Jacob Zuma] hulle aangestel het,” het sy in Soweto tydens ʼn verkiesingsveldtog gesê. “Hulle beskerm Zuma.”

Lede van die DA het Saterdag ʼn optog deur Soweto gehou nadat die advertensie onttrek is.

Mmusi Maimane, die DA se woordvoerder en premierskandidaat vir Gauteng, staan in die advertensie voor ʼn spieël en praat oor die huidige stand van die land. Klik hier om die advertensie te sien.

Die SAUK se waarnemende hoof uitvoerende beampte, Tian Olivier, het in ʼn brief aan die DA bevestig dat hy nie meer die advertensie op die televisie of oor die radio gaan uitsaai nie, aangesien dit geweld aanhits. Die SAUK het aan die DA gesê die party kan ʼn gewysigde weergawe indien.

Zille sê die redes wat verskaf is, is belaglik en die party het die Onafhanklike Kommunikasie-owerheid van Suid-Afrika (Okosa) genader. “Wanneer is die SAUK as die sensuurbaas aangestel? Ons het nog nooit ʼn klag van Okosa ontvang nie,” het sy gesê en bygevoeg dat die party aan Okosa se gedragskode voldoen.

Okosa moet binne 48 uur, dus teen Maandagmiddag, op die DA se versoek reageer om die SAUK se besluit om te keer.

Intussen het ʼn klein groepie inwoners van Soweto gesê lede van die DA het waterbottels na hulle toe gegooi omdat hulle ANC-klere gedra het. Maimane het gesê indien enige van sy party se lede geweld aangehits het, sal hy heel eerste stappe teen dié lede doen. “Ons ondersteun nie politieke onverdraagsaamheid nie,” het hy gesê. -SAPA

Lees ook:
DA mag gewysigde advertensie indien
SAUK onttrek DA se TV-advertensie
DA kap ANC met nuwe advertensie

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.